| | |

Kom wat wil – AfriForum-takke in noorde staan nie terug vir reën

Die reënseisoen in die noordelike dele van die land het nie ’n stokkie voor die AfriForum-takke in dié streek se hardwerkendheid gesteek nie. In Januarie en Februarie vanjaar het die takke in Mpumalanga, Limpopo, die Wes-Rand, Centurion en Pretoria altesaam 168 hektaar se gras in hul onderskeie dorpe gesny.

AfriForum se Centurion- en Garsfontein-takke het gedurende die eerste twee maande van 2026 altesaam 70 hektaar se gras (onderskeidelik 30 en 40 hektaar)  in hul onderskeie gebiede gesny. Die Krugersdorp-tak het tydens twee verskillende grassnyprojekte 50 hektaar-gras in openbare ruimtes in en om dié Wes-Randse mynboustad gesny. Verder het AfriForum se Nelspruit-tak in Mbombela 22 hektaar se gras gesny. Dit sluit onder meer gras op sypaadjies langs dr Enos Mabuza-rylaan, Kaapschehoop-weg, Flamboyantstraat en op die hoek van die R40 en Heronstraat in.

Die reën het ook nie AfriForum se takke in die noordstreek van die paaie afgehou nie met ’n rapsie meer as 8 ton se teer wat eindelik gebruik is om slaggate te vul. Die Nelspruit-tak het 400 kg-teer gebruik om slaggate in openbare ruimtes op te vul, terwyl die Garsfontein-tak bykans 8 ton-teer gebruik het vir slaggate.

Die takke het verder ook 83 liter se verf gebruik om lyne op die pad, wat gelykstaande is aan sowat 2 km se lyne, te verf. Terselfdertyd het hulle ook 58 ton-rommel herwin.

“AfriForum se buurtspanne is ’n praktiese bewys dat gemeenskappe nie hoef te wag vir ’n staat wat toenemend faal nie. Deur voltydse spanne in ons dorpe te vestig, bou ons doelbewus aan gemeenskapselfstandigheid en wys dat georganiseerde gemeenskappe self kan herstel en beskerm om eindelik self te kan veg en bou,” sê Arno Roodt, AfriForum se hoof vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf