Nuwe dokumentêr plaas kollig op regering se mislukking om Hermanus-grondgrype te voorkom
’n Nuwe dokumentêre film oor die inname van ’n beskermde melkboswoud deur grondgrypers buite Hermanus is nou beskikbaar. Die film, Stolen Ground: The Hermanus Story is vervaardig deur Deep Focus Media, in samewerking met AfriForumTV. Dit is die tweede dokumentêr oor grondgrype in Suid-Afrika wat deur die regisseur Joe Emilio, stigter van Deep Focus Media vervaardig is, nadat Stolen Ground: The Truth Behind the Tygerberg Land Grab in Junie 2025 vrygestel is. Emilio en AfriForum wil hierdeur bewusmaking skep van die talle maniere waarop eiendomsreg in Suid-Afrika bedreig word.
Stolen Ground: The Hermanus Story vertel die verhaal van hoe daar vanaf 2018 honderde plakkershutte opgerig is by Schulphoek, reg langs Hermanus. Dit stel ondersoek in na hoe owerhede misluk het om grondbesetters betyds te verwyder en hoe die grondgrype deur sekere politici aangemoedig is. Die verskynsel van krotboerdery (“shack farming”), waar sindikate strukture oprig en verhuur op grond wat nie aan hulle behoort nie, word ook bespreek. Verder skets dit hoe inwoners van Hermanus en Sandbaai se lewens hierdeur geraak is.

Volgens Emilio was dit een van die grootste uitdagings van sy loopbaan om hierdie dokumentêr te vervaardig. “Dit het begin as ’n ondersoek na die inname van ’n stuk grond, maar het spoedig ontaard in ’n groter verhaal oor politieke aanspreeklikheid, owerhede se mislukking om op te tree en die verwoestende gevolge vir ’n hele gemeenskap.” Hy hoop dat die dokumentêr druk sal plaas op die regering om antwoorde te bied op die krisis van grondgrype in Suid-Afrika.
Leandra Enslin, vervaardiger by AfriForumTV, vertel dat hulle die volle verhaal uit inwoners van Hermanus, en selfs sommige grondbesetters, se eie monde gehoor het. “Dit is belangrik om self te gaan hoor hoe grondgrype mense se lewens raak. Dan besef ’n mens hóé vernietigend polities-gedrewe grondgrype is en dat privaat eiendomsreg nie net ’n abstrakte konsep op papier is nie,” verduidelik Enslin. “Verhale soos dié van Schulphoek moet wyd verkondig word, sodat mense gereed is om dit op ander plekke te verhoed as daar tekens van ’n naderende grondgryp is.”

Volgens Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, is dit belangrik om gebeure soos die Hermanus-grondgrype in gedagte te hou wanneer die Onteieningswet en ander eiendomsregkwessies in Suid-Afrika bespreek word. “Wetgewing – maar ook politieke retoriek – het gevolge. As daar nie deeglike wetgewing en besliste wetstoepassing is nie, gaan kriminele groepe dieselfde skade in ander plekke aanrig,” sê Boshoff. Hy benadruk dat dit een van die redes is waarom AfriForum die stryd teen onteiening sonder vergoeding aangepak het en waarom die organisasie ook buurtwagte en gemeenskappe bemagtig om privaat eiendom te beskerm.
Die dokumentêr is gratis op AfriForumTV beskikbaar.



