Semi-Soet – die musiekblyspel open voor stampvol Teatro-gehore

Semi-Soet – die musiekblyspel het die afgelope naweek sy langverwagte buiging by die Teatro by Montecasino gemaak, met die openingsnaweek wat meer as 7 500 teatergangers gesien het. Die produksie, met Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander in die hoofrolle, is die eerste Afrikaanse produksie in meer as tien jaar wat op die Teatro se verhoog aangebied word.

Onder die gehore was talle mense wat die musiekblyspel vir die eerste keer gekyk het, sowel as verskeie teatergangers wat vir die tweede keer teruggekeer het om hierdie ikoniese musiekblyspel op die verhoog te sien. Die glansryke openingsvertoning is bygewoon deur talle bekendes, onder wie Elandré, Bernice West, Karlien van Jaarsveld , Simoné Pretorius en Victor Matfield.

Die internetpersoonlikheid en onderwyser Lerisha Storm gee dié musiekblyspel “1 000 punte uit 10”, terwyl die sanger Emil Paul sê dat dit nie ’n produksie is wat jy wil misloop nie.

“Die intrige bevat verskeie liefdesverhale wat verweef is met die meedoënlose sakewêreld en het ’n oorspronklike partituur wat die storie goed dien en die rolverdeling in staat stel om hul dans- en toneelspelvermoëns ten volle ten toon te stel,” meen Michael Abrahamson, bekende uitsaaier.

“Ek was gek oor die kostuums in die produksie, veral hoe daar met helder kleure gespeel is. Dit neem ’n mens byna dadelik terug na die fliek,” skryf Mizanne van Wyk van Maroela Media.

“Die sukses van die openingsnaweek bevestig opnuut dat daar ’n sterk behoefte aan Afrikaanse teater op groot verhoë bestaan. Elke kaartjie wat gekoop word, help om die toekoms van Afrikaanse musiekblyspele te verseker,” sê Salet Smith, AfriForum Teater-bestuurder.

Kaartjies vir Semi-Soet – die musiekblyspel is intussen besig om vinnig uit te verkoop. Van die vertonings in die speelvak is reeds tot 90% uitverkoop, wat beteken dat gehore min tyd het om hul besprekings vas te maak.

Met ’n groter rolverdeling, nuwe musiek, indrukwekkende visuele elemente en hope humor en romanse, bied Semi-Soet – die musiekblyspel ’n teaterervaring vir oud en jonk.

Die besonderhede van dié musiekspel is soos volg:

Datum:                       Vanaf 4 September 2026

Plek:                           Teatro by Montecasino

Kaartjies:                   by www.semisoetmusiekblyspel.co.za beskikbaar

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners