|

Belastingkenner gee harde feite en innoverende belastingraad aan Pretoriase sake-eienaars

As dit kom by BTW, werknemersbelasting (PAYE) en ander belastingskwessies is sake-eienaars dit waarskynlik eens – belasting is ’n taai tameletjie en ’n kopseer selfs al reken jy dat jy nou behoorlik agter die kap van die (belasting-)byl gekom het. AfriForum se Sakenetwerk kén ondernemings en die frustrasies waarmee talle kleinsakeondernemings op ’n daaglikse basis worstel. Om die angel uit belasting te haal, het die Pretoriase belastingdeskundige Wimpie Vogel onlangs lede van AfriForum Sakenetwerk se Pretoria-tak toegespreek en die harde feite van belasting op ’n verteerbare manier vir sake-eienaars uiteengesit.

Maree van den Berg van AfriForum Sakenetwerk se Pretoria-tak (links) by Wimpie Vogel

Dié opleidingsgeleentheid is op Woensdag 26 Augustus by die Akademia-studiesentrum in die Pretoriase Moot aangebied waar lede van die Sakenetwerk se Pretoria-tak byeengekom het.

Vogel het onder meer op die drie belangrikste belastingwette, naamlik die Wet op Inkomstebelasting, die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde en die Wet op Belastingadministrasie, gefokus en kritieke elemente daarin uitgelig wat spesifieke belang van kleinsakeondernemings is.

Die kwessie van belasting, is volgens Vogel, nie net iets wat aan die einde van die belastingjaar relevant is nie, maar iets wat noukeurig deur die loop van die jaar bygehou en sorgvuldig hanteer moet word. “Belasting is nie net ’n rekening wat ’n kleinsake-eienaar betaal nie; dit bepaal hoeveel van sy inkomste uiteindelik in sy besigheid oorbly,” verduidelik hy.

Hy meen voorts dat die oënskynlike klein jakkalsies in swak belastingadministrasie ’n onderneming duur te staan kan kom en uiteindelik wegvreet aan die inkomste. “Om byvoorbeeld te verseker dat ’n belastingfaktuur volledig is en onder meer die BTW-nommer, datum, beskrywing en BTW-bedrag bevat, sal later bepaal of BTW op ’n transaksie teruggeëis kan word of nie. So ook, sal swak bestuur in die laat betaling van belasting lei tot die heffing van onnodige rente, terwyl die nie-nakoming van belastingsvereistes of die onderskatting van die betaalbare belasting administratiewe boetes kan inhou.”

Ranya van der Walt, AfriForum Sakenetwerk-koördineerder, benadruk dat dié kennis kleinsake-eienaars ’n voorsprong in hul pad na sukses bied, en dat geleenthede soos dié juis daarom gemik is om eienaars te bemagtig. “Om in ’n uiters mededingende ekonomie ’n besigheid op die been te bring, bly uitdagend. Om boonop nie net jou unieke en kreatiewe sake-idee tot uitvoering te bring nie, maar om sin te probeer maak van die warboel van wetlike vereistes kan die onderneming maak of breek. Daarom is ontledings en opleidingsgeleenthede by AfriForum Sakenetwerk so waardevol en bied dit aan kleinsake-eienaars die toerusting om hul entrepreneuriese droom werklik vlerke te gee,” sluit sy af.

Sluit vandag nog aan by een van AfriForum Sakenetwerk se takke. Besoek die netwerk se webblad vir meer inligting of om jou naaste tak op te spoor.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf