|

Sannieshof stuur op ramp af weens gebrekkige instandhouding van reservoir – AfriForum

’n Ondersoek na die toestand van die waterreservoir in Sannieshof het AfriForum tot die gevolgtrekking laat kom dat daar ’n werklike risiko bestaan dat die voortdurende erosie van die infrastruktuur ernstige skade aan die hele waternetwerk kan aanrig. Só ’n gebeurtenis kan die dorp se watertoevoer onderbreek en ernstige skade aan nabygeleë eiendomme aanrig.

AfriForum het in ’n skrywe aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit sy kommer te kenne gegee oor die toestand van dié reservoir. Dele van die reservoir en omliggende infrastruktuur lek al reeds vir ’n geruime tyd.

“Die voortdurende waterverlies is nie net ’n vermorsing van ’n kosbare hulpbron nie, maar bedreig ook die strukturele integriteit van die infrastruktuur. Indien die probleem nie dringend aangespreek word nie, kan die reservoir se fondasie moontlik verswak en meegee. Dit kan ernstige gevolge vir die dorp se watervoorsiening inhou,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum se Sannieshof-tak het in samewerking met die VF Plus reeds die gras om die reservoir gesny en die terrein skoongemaak om die gebied toeganklik te maak. Hierdie gemeenskapsinisiatief bied nou die ideale geleentheid vir die munisipaliteit om die nodige herstelwerk aan die lekkasies uit te voer en die reservoir se strukturele veiligheid te verseker.

AfriForum het daarom die munisipaliteit versoek om dadelik met herstelwerk te begin en ’n omvattende assessering van die reservoir se strukturele integriteit te laat doen. Indien die munisipaliteit nie oor die kapasiteit beskik om dit te doen nie, eis AfriForum verder dat sy voorgestelde memorandum van verstandhouding onderteken word sodat die burgerregteorganisasie saam met die munisipaliteit aan oplossings kan werk.

“Die inwoners van Sannieshof verdien veilige en betroubare dienslewering. Die agteruitgang van kritieke waterinfrastruktuur kan nie langer geduld word nie. Hierdie reservoir moet dringend herstel word voordat wydverspreide skade aan die dorp en die hele waternetwerk gerig word,” sê Nel.

“AfriForum sal nie skroom om die premier van Noordwes te nader en dringende ingryping te versoek om verdere verval van noodsaaklike infrastruktuur te voorkom nie.”

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Klik hier vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf