|

’n Water- en stormwaterfiasko broei op Upington: AfriForum eis dringende optrede

Oorspoeling in Upington

Die skade wat verstopte stormwaterpype, mangate en afvoerkanale in Upington aan die omgewing, sake- en residensiële eiendomme aanrig, vereis volgens AfriForum nou dringende optrede van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit. Die burgerregteorganisasie se Noord-Kaapse kantoor het daarom in ’n skrywe aan die munisipaliteit ses dringende eise gestel om dié ramp – wat ernstige veiligheids- en gesondheidsrisiko’s vir die omgewing en gemeenskap inhou – af te weer.

AfriForum waarsku dat die munisipaliteit se onvermoë of onbereidwilligheid om die omvangryke waterverliese en probleme met stormwaterdreinering die hoof te bied, onder meer lei tot oorstroming van eiendom; skade aan geboue, paaie en ander infrastruktuur; gevaarlike toestande vir motoriste en voetgangers; en omstandighede bevorderlik vir die verspreiding van siektes.

In die skrywe aan die munisipaliteit dring AfriForum daarom aan op:

  • ’n omvattende ondersoek van alle stormwaterpype, mangate en afvoerstelsels in die Upington-gebied;
  • die implementering van ’n gereelde instandhoudings- en skoonmaakprogram;
  • die herstel van geblokkeerde of beskadigde infrastruktuur;
  • die versterking van die noodreaksieplan vir gevalle waar hoofwaterpype bars;
  • die implementering van ’n verbeterde kommunikasiestrategie om gemeenskappe op die hoogte te hou van beplande instandhouding en herstelwerk; en
  • die onderneming van risiko-assessering van gebiede wat gereeld deur oorstromings geraak word.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, is die omvang van waterverliese in hierdie munisipaliteit kommerwekkend, veral gegewe die gebied se waterskaarste. Die ouditeur-generaal se verslag wys daarop dat nagenoeg R21,52 miljoen se water in die 2023/2024-boekjaar in die munisipaliteit verlore gegaan het. Dit kom neer om nagenoeg 50% van alle water wat in die munisipaliteit se pyplyne vloei.

’n Verstopte en beskadigde stormwatergat in Upington

Die munisipaliteit se jongste beskikbare jaarverslag vir 2024/2025 wat vroeër vanjaar uitgereik is, toon boonop dat waterverliese ernstige gevare inhou. Luidens die verslag “hou die verouderde waternetwerk ’n ernstige bedreiging in vir mense, aangesien pype voortdurend bars en besoedeling in die netwerk veroorsaak”. Die munisipaliteit voer self ook voorts aan dat die hoeveelheid water wat verlore gaan “onaanvaarbaar hoog” is weens “gebrekkige waterbestuurstelsels”. Oor probleme met stormwaterdreinering bevestig die munisipaliteit in dieselfde verslag ook dat instandhouding van stormwaterlyne uitdagings bied weens ’n “gebrek aan geskikte toerusting” wat tot verspoeling van paaie aanleiding gee.

“Die munisipaliteit is duidelik bewus van die omvangryke probleme ten opsigte van waterverliese en stormwaterdreinering. Tog is hul hantering van dié probleme totaal ontoereikend. Intussen ly inwoners en sake-eienaars daaronder wanneer water in strate opdam, openbare ruimtes oorstroom of in huise en ondernemings invloei,” verduidelik Strauss.

“Die gebrek aan gereelde instandhouding en inspeksies van stormwater- en waterinfrastruktuur stel die gemeenskap bloot aan onnodige risiko’s. Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie infrastruktuur behoorlik funksioneer en dat inwoners se veiligheid en welstand beskerm word,” gaan hy voort.

Strauss benadruk dat plaaslike owerhede kragtens die Grondwet, die Munisipale Stelselswet, die Nasionale Waterwet en die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid verplig is om infrastruktuur doeltreffend te bestuur, te onderhou en risiko’s vir die publiek te beperk.

“Die veiligheid, gesondheid en ekonomiese welstand van Upington se inwoners moet nou geprioritiseer word. Ons vertrou dat die munisipaliteit hierdie aangeleentheid met die nodige dringendheid sal hanteer en konkrete stappe sal doen om verdere skade en risiko’s te voorkom,” sluit Strauss af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik