Pilanesberg
|

Word besoekers ‘gestraf’ vir Pilanesberg se jarelange finansiële wanbestuur, vra AfriForum

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum versoek antwoorde van die Noordwes-regering en die Noordwes-parke-en-toerismeraad oor die onlangse reuse-verhogings aan die Pilanesberg Nasionale Park se toegangsgeld. ’n Besoek aan hierdie park sal besoekers nou veel meer uit die sak jaag as ’n besoek aan die Krugerwildtuin. Die organisasie is bekommerd dat die publiek nou gevra word om aansienlik meer vir toegang tot ’n openbare park te betaal sonder voldoende deursigtigheid oor hoe fondse oor ’n tydperk toegeken, bestee of herbelê is. Dus, versoek AfriForum inligting oor befondsing, uitgawes en onlangse verhogings in toegangsgeld by Pilanesberg.

Die Noordwes-parke-en-toerismeraad het onlangs in die media erken dat groot dele van die park se infrastruktuur aansienlik agteruitgegaan het as gevolg van ’n langtermyn gebrek aan onderhoud. Terselfdertyd is toegangsgeld kort voor die Desember-vakansie skerp verhoog en AfriForum meen dat besoekers aan Pilanesberg nie kan pa staan vir hierdie verwaarlosing deur meer vir toegang te betaal.

In ’n brief wat AfriForum op 30 Januarie aan die Noordwes-regering en die Noordwes-parke-en-toerismeraad gerig het, versoek die organisasie inligting met betrekking tot historiese begrotingstoewysings en uitgawes by Pilanesberg; inkomste wat deur toegangsgelde gegenereer is; die gebruik van konsessie-inkomste; en die basis waarop die onlangse tariefverhogings goedgekeur is.

“Ons bekommernis is nie bewaring self nie – die wild by Pilanesberg lyk gesond – maar eerder die bestuur van hierdie nasionale park,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake. “Wanneer ’n openbare instelling erken dat infrastruktuur vir dekades verwaarloos is, kan die gepaste reaksie nie bloot wees om die koste daarvan aan die publiek oor te laat sonder duidelike verantwoording nie.”

AfriForum het die provinsiale regering en -parkeraad genader in die gees van konstruktiewe betrokkenheid en deursigtigheid en het aangedui dat die organisasie vrywillige openbaarmaking van hierdie inligting verkies voordat formele prosesse aangewend word om toegang tot inligting te bekom.

“Pilanesberg behoort aan die mense van Noordwes en Suid-Afrika as geheel. Toegang tot openbare natuurreservate moet nie ’n meganisme word om te vergoed vir jare se finansiële wanbestuur of onvoldoende toesig nie,” sluit De Klerk af.

AfriForum sal verdere stappe oorweeg indien die inligting soos versoek nie beskikbaar gestel word nie.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf