AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool Boerefort
AfriForum se teenboeliespan het op 22 April byna 600 leerders aan die Laerskool Boerefort in Pretoria met praktiese vaardighede toegerus om boeliegedrag hok te slaan. Die aanbieding dien as bewusmaking van afknouery en bemagtiging van leerders om boeliegedrag te herken, die gevolge daarvan te verstaan en met selfvertroue en respek daarteen op te tree.
AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van “die volle wapenrusting van God”, het diep inslag by die leerders gevind. Die leerders het verder geleer dat boeliegedrag in enige vorm voorkom. Hoewel boelies dikwels met fisiese aggressie geassosieer word, maak sommige boelies ook van manipulasie en sosiale isolasie gebruik.
Boeliegedrag bly ’n groot uitdaging in Suid-Afrikaanse skole. Data van die Departement van Basiese Onderwys en die Verenigde Nasies se Kinderfonds (UNICEF) van 2023 toon dat ongeveer 3,2 miljoen leerders in Suid-Afrika elke jaar boeliegedrag ervaar – ongeveer dubbel die wêreldgemiddelde. Hierdie navorsing wys hoe wydverspreid en genormaliseer hierdie probleem werklik in Suid-Afrikaanse skole is.
“Omdat boeliegedrag so algemeen voorkom en so groot invloed op leerders se welstand en ontwikkeling het, is dit nie iets wat ligtelik opgeneem kan word nie. Kinders moet die erns van boeliegedrag besef en weet dat hul woorde en dade iemand wat reeds swaarkry oor die afgrond kan stoot,” sê Mari-Louise Erasmus, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.
“Daarom is dit belangrik dat skole boeliegedrag vinnig takel en ’n kultuur van respek en omgee bevorder. Slagoffers moet nie net leer hoe om hulself te beskerm nie, boelies moet ook leer hoe om hul optrede teenoor hul maats te verander.”
Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.



