| | |

AfriForum versterk landelike veiligheid met nege nuwe protospanlede in Mokopane

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)

AfriForum het onlangs nege nuwe protospanlede by sy Potgietersrus-tak in Mokopane opgelei as deel van die organisasie se voortgesette uitbreiding van sy gemeenskapsveiligheidsvermoë in landelike gebiede. Hierdie opleiding vorm deel van AfriForum se strategie om plaaslike veiligheidsnetwerke verder te versterk en gemeenskappe toe te rus om doeltreffend saam met wetstoepassingsowerhede op te tree.

Protospanne is AfriForum se gespesialiseerde veiligheidsreaksie-eenhede wat bestaan uit hoogs opgeleide vrywilligers wat buurt- en plaaswagte ondersteun tydens hoërisiko-operasies, soektogte, plaasaanvalle en ander ernstige veiligheidsinsidente. Die opleiding fokus onder meer op taktiese vuurwapenhantering arrestasietegnieke, die veilige benadering van verdagte voertuie en geboue, spanwerk, situasiebewustheid en veilige optrede tydens hoërisiko-voorvalle.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is die uitbreiding van die protospan-netwerk ’n direkte belegging in veiliger landelike gemeenskappe.

“Landelike gemeenskappe word daagliks met ernstige veiligheidsuitdagings gekonfronteer. Plaasaanvalle, veediefstal en ander ernstige misdade vereis dat gemeenskappe georganiseerd, opgelei en paraat moet wees. Die opleiding van hierdie nege nuwe protospanlede versterk nie net Potgietersrus se veiligheidsvermoë nie, maar dra ook by tot die veiligheid van omliggende landbougemeenskappe.”

Broodryk beklemtoon dat AfriForum se protospanlede nie ’n plaasvervanger vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is nie, maar ’n belangrike magsvermenigvuldiger wat binne die raamwerk van die wet optree.

“Ons doel is om gemeenskappe beter toe te rus om verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem en om die SAPD, wat dikwels onder geweldige druk verkeer weens mannekrag- en hulpbrontekorte, te ondersteun. Goed opgeleide vrywilligers kan die verskil beteken tussen ’n suksesvolle reaksie en ’n tragedie.”

AfriForum se veiligheidsopleiding strek veel verder as protospanopleiding. Die organisasie bied tans 33 verskillende veiligheidsmodules aan sy lede, wat wissel van plaaswag- en buurtwagopleiding tot teenkaping, spoorsny, vuurwapenhantering, hommeltuigoperasies en noodreaksie.

Met 177 buurt- en plaaswagte landswyd bly AfriForum sy veiligheidsnetwerke uitbrei om gemeenskappe meer selfstandig en weerbaar teen misdaad te maak.

“Misdaad in Suid-Afrika toon geen teken van afname nie en gemeenskappe kan nie bekostig om passief te bly nie. Daarom sal AfriForum voortgaan om in opleiding, toerusting en die uitbreiding van ons veiligheidstrukture te belê. Elke nuwe protospanlid versterk ons vermoë om gemeenskappe te help beskerm en vinnig op veiligheidsinsidente te reageer,” sluit Broodryk af.

Raak betrokke by AfriForum se veiligheidsnetwerke deur www.afriforumbuurtwag.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings

Veiligheid