Water, kraan, kraanwater
| | |

Residentia-woonbuurt in Welkom 30 dae-plus sonder water; AfriForum eis optrede

AfriForum eis optrede van dr. Vuyo Adonis, die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, nadat inwoners van Residentia in Welkom reeds meer as 30 dae sonder ’n betroubare watertoevoer is, terwyl die munisipaliteit steeds nie antwoorde verskaf oor wanneer die krisis opgelos gaan word nie. Adonis rep ook nie ’n woord oor die voortslepende waterkrisis nie ondanks AfriForum se korrespondensie daaroor.

Die organisasie het Adonis vandag opnuut in ’n brief versoek om binne 24 uur skriftelik te reageer en duidelikheid te gee oor die oorsaak van Residentia se waterkrisis, die stappe wat reeds gedoen is om op te tree en die tydraamwerk waarbinne watervoorsiening herstel sal word. AfriForum eis ook ’n volledige verslag oor die operasionele status van ses boorgate, insluitend bevestiging dat werkende pompe geïnstalleer is, hoeveel water daagliks geproduseer word en watter instandhoudingswerk reeds gedoen is.

AfriForum het op 2 November sy eerste dringende brief aan Adonis gerig waarin die organisasie geëis het dat die munisipaliteit onmiddellik by die waterkrisis ingryp, noodwatervoorsiening beskikbaar stel en binne 24 uur skriftelik terugvoer gee. Adonis het egter tot dusver op geen van die organisasie se navrae oor die aangeleentheid gereageer nie. Intussen duur die waterkrisis voort en word inwoners gedwing om daagliks sonder ’n noodsaaklike basiese diens klaar te kom.

“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat ’n woonbuurt reeds meer as 30 dae sonder water is en dat die munisipale bestuurder nie eens die moeite doen om sy inwoners se navrae te beantwoord nie. Dr. Adonis moet verduidelik waarom hy nie reageer nie en waarom inwoners steeds sonder water en antwoorde gelaat word. Die munisipaliteit se stilswye los nie die probleem op nie,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

“Inwoners voer aan dat daar wel watertenkwaens in die dorp beskikbaar gestel is om water te gaan haal. Daar is egter ’n groot aantal bejaardes op die dorp wat nie tot by die tenkwaens kan kom nie of fisiek nie in staat is om swaar emmers vol water dra nie.”

In sy jongste brief bevraagteken AfriForum die funksionaliteit van munisipale boorgate en eis terselfdertyd antwoorde oor die funksionaliteit van ses munisipale boorgate wat volgens beskikbare projekinligting reeds gedurende 2023 geboor en oorhandig is.

“Ons versoek inligting oor hierdie projekte met verwysing na die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir 2025/2026,” sê Ikking.

Die boorgate is in Hennenman, Riebeeckstad, Mmamahabane, Phomolong en Thabong geleë en het luidens die beskikbare inligting ’n gesamentlike aangemelde leweringsvermoë van 36 000 liter per uur met ’n totale opgaarkapasiteit van 120 000 liter.

Indien al ses boorgate deurlopend teen hul aangemelde leweringsvermoë funksioneer, verteenwoordig dit ’n teoretiese produksievermoë van tot 864 000 liter per dag.

AfriForum wil egter weet of hierdie boorgate werklik toegerus is met werkende pompe, of dit aan funksionele verspreidingsnetwerke gekoppel is en of die water wat geproduseer word die beoogde gemeenskappe bereik.

“Die munisipaliteit moet verduidelik wat van hierdie boorgate geword het. Is dit volledig toegerus? Is die pompe in werkende toestand? Word die water benut? Indien nie, waarom nie? Dit is nie voldoende om boorgate te boor en projekte as afgehandel aan te dui indien die infrastruktuur nie behoorlik funksioneer nie.

“Hoeveel langer moet inwoners van Residentia nog sonder water wees voordat die munisipaliteit daadwerklik optree? Die inwoners verdien nie net verduidelikings nie, maar ’n werkbare oplossing,” sê Ikking.

AfriForum wys daarop dat artikel 27(1)(b) van die Grondwet elkeen se reg op toegang tot voldoende water beskerm. Die munisipaliteit het ook ’n grondwetlike verantwoordelikheid om basiese dienste op ’n volhoubare wyse te lewer.

Die organisasie meen dat die voortslepende waterkrisis in Residentia, tesame met die gebrek aan kommunikasie van die munisipale bestuur, ernstige vrae oor dienslewering en aanspreeklikheid laat ontstaan.

Indien die munisipaliteit steeds versuim om op te tree, sal AfriForum verdere stappe oorweeg, insluitend ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en moontlike regsoptrede.

“Dr. Adonis en die Matjhabeng-munisipaliteit moet besef dat hulle ’n verantwoordelikheid teenoor inwoners het. AfriForum gaan nie ophou om antwoorde te eis terwyl Residentia se inwoners sonder water gelaat word nie. Ons sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen totdat hierdie krisis opgelos is,” sluit Ikking af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf