Vyf lesse uit 2026 se munisipale verkiesing
Deur Ernst van Zyl
Die munisipale verkiesing van 2026 het vele Suid-Afrikaners opgewonde gemaak oor die toekoms, maar tog bly ander onseker. Ek wil dus hierdie geleentheid gebruik om die verkiesingsuitslae te ontnonsens deur die lesse uiteen te sit wat elkeen van die voorste vyf partye, gebaseer op stemme, vir ons leer.
Alhoewel die ANC numeries steeds die meeste stemme gekry het, het die party ’n historiese ineenstorting van mag op plaaslike regeringsvlak ervaar. Ná die 2021-verkiesing het die ANC beheer gehad oor 122 uit 213 munisipale rade. Ná vanjaar se verkiesing sal hy nou slegs 54 beheer. Die kernles is dat miljoene kiesers besluit het om eerder hulle oë, die realiteit wat hulle ervaar, as hulle ore, die slagspreuke van ANC-politici, te glo. Groen riool wat in die straat afloop, geelgevlekte hospitaalbeddens en swart nagte sonder krag het vir Suid-Afrikaners getuig wie se skuld die agteruitgang was. Die bewering deur sekere analiste dat president Donald Trump van die VSA se druk op die Suid-Afrikaanse regering ondersteuning vir die ANC gaan konsolideer, het toe ook nie gematerialiseer nie.
Die DA beheer een minder munisipale raad as meerderheidsparty as in 2021, en sy stempersentasie het met slegs ongeveer 3% gegroei. Die party se verkiesingsukses was egter meer proporsioneel as numeries. Eerder as om sy groei in stemme te tel, moet die toename in invloed geweeg word. Die DA is die grootste party in agt meer munisipale rade waar koalisies gevorm sal moet word as in 2021. Die aantal munisipale rade sonder ’n meerderheidsparty het skerp toegeneem van 66 in 2021 tot 127 in 2026. Die les wat die DA se 2026-resultate dus vir ons leer dat enige party wat ernstig is oor die groei van sy magsbasis, in die toekoms die kuns van koalisiepolitiek sal moet bemeester. Die politieke paradigma van alleenregeer op plaaslike regeringsvlak is duidelik verby.
Jacob Zuma se MK-party het weereens bewys dat kulturele identiteit in die Suid-Afrikaanse politiek vir die voorsienbare toekoms steeds koning sal kraai. Volgens 2024 se data is ongeveer 78% van MK-kiesers Zulu-sprekend. MK was daarom die dominante politieke mag in KwaZulu-Natal, met ongeveer 34% van die stemme. Die party het ’n volstrekte meerderheid in drie munisipaliteite (al drie in KwaZulu-Natal) behaal en is die grootste party in 19 ander (óók almal in KwaZulu-Natal). MK is ook die grootste party in die eThekwini-metroraad (Durban), met 86 uit 223 setels.
Die EFF het geleer dat wanneer jy in 2019 vir kiesers belowe dat as jy nie binne vyf jaar ’n skool bou nie hulle nooit weer vir jou hoef te stem nie, honderde duisende jou ernstig gaan opneem. Tussen 2021 en 2026 is die EFF se ondersteuning amper in die helfte gesny, van ongeveer 10% na rondom 6%. Hulle is ook gedegradeer vanaf die derde na die vierde grootste party. ’n Leier wat skuldig bevind is aan ’n ernstige misdaad, wat dreunsange sing oor moord op boere en wat onder eed getuig dat hy moontlik eendag ’n oproep sal doen om die wit minderheid uit te moor, was toe nie so gewild soos Julius Malema gedink het nie. Malema, die verskoningkoning, blameer natuurlik vir AfriForum vir sy party se vrot verkiesingsuitslae, maar sê dat die EFF nie gaan opgee nie. Hulle 2026-slagspreuk “Victory or death” blyk dus nóg ’n leë belofte te wees.
Laastens het ActionSA bewys dat dit nie noodwendig die aantal stemme is wat die meeste tel nie, maar waar jy daardie stemme kry. Herman Mashaba se party het homself gevestig as een van die koalisie-koningmakers van Gauteng. Hulle steun het verdubbel van 2,33% in 2021 tot 5,67% in 2026. In 2021 het ActionSA geen wyk met ’n meerderheid gewen nie. In 2026 het die party meerderhede in 56 wyke verkry – insluitend werkersklas-areas soos Tembisa in Ekurhuleni. ActionSA het bewys dat onwettige immigrasie en grensbeheer kritieke kwessies geword het in die Suid-Afrikaanse politiek. In ’n land met ’n werkloosheidskoers van meer as 33,7% en openbare dienste en infrastruktuur onder groeiende druk, is dit geen verrassing nie. Die gewildheid van burgerlike bewegings soos March and March het egter lank voor die verkiesing as windkous vir dié rigting van die politieke wind gedien. Tog beskou die meeste toppartye steeds hierdie kwessies as radioaktief, wat vir partye wat nie bang is om daarop te hamer nie, soos ActionSA en die Patriotic Alliance, ’n hoogs voordelige nis uitkerf.
Nes die VSA is Suid-Afrika onmiskenbaar in ’n tydperk van politieke herbelyning. Die geskiedenis bewys dat sulke tye gekenmerk word deur hoë vlakke van politieke onstuimigheid en chaos. Dit is egter nie ’n rede vir kommer nie, want onsekerheid is ’n voorvereiste vir tye ryk aan geleenthede.



