Oudtshoorn-tak help skole om veiligheid op te skerp


AfriForum se Oudtshoorn-tak het verlede week by Laerskool Wesbank en Langenhoven Gimnasium veiligheidsoudits gedoen om dié skole se veiligheid te help opskerp.
Die oudit handel oor basiese veiligheidsverwante kwessies soos omheinings, buite-beligting en kameras. Dit is só ontwerp dat die skool dit kan gebruik om kwesbare areas te identifiseer, en die nodige verbeteringe aan te bring. Die oudit stel ’n skool ook in staat om gebeurlikheidsplanne in plek te kry vir verskillende tipes noodgevalle, soos byvoorbeeld brande, vloede, gewelddadige protesaksies, of ontvoerings.
“Dit is van kardinale belang dat die kinders in ons gemeenskappe in ’n veilige omgewing kan skoolgaan. Skole is baie keer ’n sagte teiken vir opportunistiese oortreders en daarom is dit belangrik om proaktief te wees. Ons kan nie toelaat dat misdaad ’n vastrapplek in ons gemeenskap kry nie, daarom is dit vir ons by AfriForum belangrik om veiligheid in ons gemeenskap in geheel op te skerp en nie net spesifiek in die onderskeie woonbuurte nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder in die Suid-Kaap.
AfriForum se Oudtshoorn-buurtwag het ook verlede week kabeldiewe verjaag uit een van die woonbuurte uit. Die buurtwag bestaan uit vrywilligers wat hand opsteek om hul gemeenskap veilig te hou.
AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots. Skole kan AfriForum ook skakel indien hul ’n oudit verlang.
Sluit vandag nog aan by die Oudtshoorn-tak, en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.



