NUUSKOMMENTAAR: Ramaphosa se soeke na vergoeding vir slawerny
Deur Ilze Nieuwoudt
In 2026 kan slawehandel op geen manier goedgepraat word nie. Vandag kan ons met die wysheid wat nakennis bring, met afgryse na eeue van slawehandel kyk en weet dit is ’n klad op bykans die ganse mensdom. Toe president Cyril Ramaphosa egter vandeesweek in sy weeklikse nuusbrief verklaar dat voormalige koloniale magte herstelbetalings moet doen vir die slawehandel wat “steeds die ontwikkeling van hele samelewings in Afrika terughou”, is die komplekse verhaal van slawerny weer eensklaps gereduseer tot twee teenoorstaande partye – die eerbares en die verraderlikes; die misdadigers en die slagoffers.
Ramaphosa se standpunt strek duidelik net tot by die Transatlantiese slawehandel en moontlik die handel in slawe uit Afrika na gebiede in die Indiese Oseaan. Die Arabiese slawehandel, ook genoem die Trans-Sahara-slawehandel, wat vanaf nagenoeg die 7de eeu tot vroeg in die 20ste eeu geduur het, en tussen 10 en 18 miljoen mense van hul vryheid ontneem het aan die hande van Arabiese en Islamitiese handelaars, word verswyg. Ook die minder bekende Mediterreense of Berberse slawehandel – waartydens nagenoeg ’n miljoen Europeërs as slawe weggevoer is na Noord-Afrika – word ook gerieflikheidshalwe vergeet.
Die president se standpunt is, gesien vanuit ’n hedendaagse perspektief, eerstens ’n klap in die gesig van Afrika en die kontinent en sy mense se vermoë. Toegegee, vergeleke met eerstewêreldlande vaar Afrika se ekonomieë telkens maar middelmatig tot power, maar binne die Afrika-konteks vaar verskeie moderne state wat groot hoeveelhede mense aan die Transatlantiese-slawenetwerk afgestaan het, relatief goed. Uit die huidige tien sterkste ekonomieë in Afrika, is nie minder nie as vier state in Sentraal-Wes-Afrika geleë. Dit is duidelik dat lande soos Nigerië, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Ghana hul nie laat terughou deur ’n slagoffermentaliteit nie. Inteendeel Nigerië het die afgelope paar jaar Suid-Afrika, in terme van bruto-binnelandse produk (BBP), telkens oortref. Die argument dat die nalatenskap van slawerny die rede vir talle Afrika-lande se swak ekonomieë is, hou duidelik geen water nie.
Benewens die vermoë en veerkragtigheid van Afrika en sy mense, misken die president skynbaar ook Afrika-stamme se eie historiese aandeel aan die Transatlantiese slawehandel. Die Amerikaanse historikus prof. John K. Thornton, tans verbonde aan die Universiteit van Boston, se boek Africa and Africans in the making of the Atlantic world weerlê die idee dat Afrikane blote slagoffers van die slawehandel met Europese handelaars was. Inteendeel, Thornton en talle ander historici het sedertdien bevind dat die Afrika-oorwinnaars in plaaslike konflikte hul krygsgevangenes aan Europese handelaars van die hand gesit het. Boonop was slawerny nie ’n boosheid wat eers saam met Europeërs voet aan wal gesit het in Afrika nie. Navorsers het ook bevind dat Afrika-leiers wat met die Europese handelaars sake gedoen het, nie net bekwame sakemense was nie, maar ook geensins onder enige ekonomiese druk verkeer het om mense wat tydens oorloë as buit geneem is, te verhandel nie.
Laastens is die verhaal van slawerny en Afrika al so kompleks dat daar eenvoudig geen manier is om die sogenaamde slagoffers van die misdadigers te onderskei nie. Afrikaners is op eie bodem ’n sprekende voorbeeld van ’n gemeenskap wat, volgens sommige linkse meningsvormers, in die tyd van die VOC die grootste voordeel getrek het uit die slawehandel aan die Kaap. Dié argument ignoreer die gemengde afkoms van die Afrikanerbevolking wat volgens die genealoog dr. J.A. Heese teen die 1860’s min of meer 40% Nederlands, 40% Duits, 7% Frans en 13% Afrika- en Asiaties was. Boonop het talle Afrikaner-families ’n slawestamouer wat vandag die onderskeid tussen destydse slaaf en eienaar nou onmoontlik maak.
Ondanks die bitterheid wat nog heers onder talle gemeenskappe oor slawehandel wêreldwyd en die verwonding wat sekerlik steeds ervaar word, is die voortgesette oproep op vergoeding vir die verlede futiel. Kennis en begrip van die verlede sal veel meer waardevol wees.
Praktiese optrede word egter wel vereis in terme van moderne slawerny in Afrika waar ’n geskatte 7 miljoen mense tans in die een of ander vorm van slawerny vasgevang is.
In Mauritanië, in die noordweste van Afrika, waar slawerny eers in 1981 afgeskaf is, is byna 150 000 mense vandag steeds vasgevang in slawerny. Boonop geld die ou gebruik wat bepaal dat die kinders van ’n slaaf ook die eiendom van die slawe-eienaar is, steeds. En ondanks die instelling van streng wetgewing en straf vir dié misdaad vind byna geen skuldigbevindings plaas nie.
Terwyl Ramaphosa vra vir vergoeding vir die verlede, beleef duisende mense skynbaar stil-stil die bittere werklikheid van hedendaagse slawerny.
Miskien het die tyd ryp geword om die las van slagofferskap weens die verlede af te gooi en daadwerklik op te staan teen onreg wat vandag die kontinent en sy mense teister.



