Organisasies kap GDO se roekeloosheid met graad R-plasings
Die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) word in ʼn formele skrywe aangeraai om sy beplande insluiting van graad R in die sentrale aanlyn toelatingstelsel vir 2027 te hersien.
In hierdie gesamentlike skrywe van Solidariteit se Onderwysernetwerk, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en AfriForum, word gewaarsku dat die oorhaastige besluit nie net onrealisties is nie, maar moontlik ook onregmatig geneem is.
Die organisasies eis dat die departement die implementering van verpligte graad R-insluiting dringend uitstel totdat die basiese vereistes vir graad R-onderwys in plek is.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, is die besluit ʼn klassieke voorbeeld van beleid wat nie met die werklikhede op grondvlak klop nie.
“Die departement probeer om ʼn administratiewe oplossing vir ʼn infrastruktuurkrisis te bied. Dit is sinneloos. ʼn Aanlyn stelsel kan nie oornag klaskamers skep, onderwysers oplei of skole bou nie. Hierdie besluit is eenvoudig van die werklikheid verwyder,” sê Botha.
Die Gautengse LUR vir onderwys, Lebogang Maile, het vroeër vanjaar aan die media gesê ʼn tekort van sowat 200 skole en 5 554 klaskamers bestaan in Gauteng.
Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, sê die GDO se eie erkenning van hierdie ernstige klaskamertekort en gebrek aan skole skep reeds ernstige probleme vir onderwys in die provinsie.
Daarom glo sy voorstelle vir aanlyn toelatings vir graad R, terwyl infrastruktuur en befondsing ontbreek, is onverklaarbaar.
“Ons sien jaarliks hoe Gauteng reeds sukkel om leerders in bestaande grade betyds te plaas, met aanlyn plasings wat dikwels eers maande ná die begin van die skooljaar afgehandel word.
“Om ʼn reeds oorbelaste en gebrekkige stelsel verder uit te brei om graad R in te sluit, is nie net onverantwoordelik nie; dit is roekeloos en plaas enorme druk op almal betrokke,” sê Bailey.
Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, sê die besluit gaan ʼn onbillike en bykomende las op skole en op ouers plaas.
Buys verduidelik dat ouers verplig word om hul kinders deur ʼn sentrale stelsel te registreer, terwyl daar in werklikheid geen waarborg bestaan dat daar plek beskikbaar sal wees nie.
“Daardie plig moet hand aan hand gaan met die staat se grondwetlike plig om werklike toegang tot onderwys te verseker. Die aanvaarding van die Bela-wet in Desember 2024 het ʼn verpligting geskep wat in werklikheid nie nagekom kan word nie,” meen Buys.
Intussen word skole wat hul eie graad R-fasiliteite met privaat fondse gebou het, aan sentrale beheer blootgestel, sonder enige duidelike vergoeding of ondersteuning.
“Die staat kan nie sy grondwetlike plig ontduik deur die las op skole en op ouers af te skuif nie. Dit kan ook nie nakoming afdwing met ʼn stelsel wat dit self nie die kapasiteit voor het om dit te onderhou of te ondersteun nie,” sê Buys.
“Boonop is daar ʼn ernstige tekort aan gekwalifiseerde graad R-onderwysers. Volgens aanduidings word ongeveer 2 333 graad R-onderwysers benodig. Geen geloofwaardige plan is tot dusver bekend gemaak oor hoe hierdie tekort aangespreek gaan word nie.
“Die vraag is eenvoudig: Waar gaan die nodige klaskamers, hulpbronne en onderwysers vandaan kom? Wie gaan betaal vir fasiliteite wat skole reeds self opgebou het?” sê Buys.
In die skrywe versoek die organisasies die GDO om binne 14 dae skriftelik die volgende inligting te verskaf:
- Die departement se implementeringsplan, begrotings en tydraamwerke om die tekort aan klaskamers en skole aan te spreek.
- Die befondsing en aanstelling van die bykomende 2 333 gekwalifiseerde graad R-onderwysers.
- Vergoeding, subsidies en verdere ondersteuning vir skole wat reeds hul eie graad R-fasiliteite befonds het.
- Die proses vir ouers wat weens ʼn gebrek aan beskikbare plek nie hul kinders in graad R kan registreer nie.
- Of nie-registrasie vir graad R ʼn kind se graad 1-plasing in 2028 of daarna sal benadeel.
- Die huidige aantal beskikbare graad R-plekke per skool en per distrik.
- Die begroting vir die integrasie van graad R in laerskole.
Solidariteit, die SOS en AfriForum is dit eens dat die implementering van die besluit, sonder voldoende kapasiteit, infrastruktuur en hulpbronne nie net onprakties is nie, maar ook ernstige regsrisiko’s inhou.
Die Onderwysernetwerk dring dus daarop aan dat graad R-toelatings voorlopig skoolgebaseerd bly, totdat die departement kan bewys dat daar voldoende plek, personeel en befondsing is om elke leerder te akkommodeer.



