| |

Slegs 27% van vullisterreine in KwaZulu-Natal op standaard, toon AfriForum-oudit

Slegs 27%, oftewel drie uit die 11 vullisterreine en oorlaaistasies wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit in KwaZulu-Natal geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Dié terreine (die Seadoone-oorlaaistasie in Amanzimtoti, die Endumeni-terrein in Glencoe en die Empangeni-terrein) se sukses word egter oorskadu deur die swak prestasie van ander vullisterreine in dié provinsie.

AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag toon voorts dat KwaZulu-Natal se terreine vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 56% kon haal, net-net beter as die Oos-Kaap wat ’n nakomingspunt van 55% het, maar veel swakker as die Wes-Kaap en Gauteng wat onderskeidelik 66% en 64% behaal het.

AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.

Volgens AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat pas bekendgestel is, het terreine in die KwaZulu-Natal – ondanks hul oorhoofse swak prestasie – tog op verlede jaar se rekord verbeter en agt uit die 11 terreine wat geoudit is, het daarin geslaag om hul nakomingspunt ietwat te verbeter.  

Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir dié provinsie, meen egter dat dié geringe verbetering nie genoeg is nie. “Die Newcastle-vullisterrein, wat die grootste stedelike sentrum in die noorde van KwaZulu-Natal bedien, het naas die Paulpietersburg- en Vryheid-vullisterreine die swakste in die provinsie gevaar en kon net daarin slaag om ’n nakomingspunt van 34% te kry,” verduidelik Van Aswegen.

Uit die 11 vullisterreine wat in KwaZulu-Natal geoudit is, kon die volgende vier terreine nie eens ’n nakomingspunt van 40% haal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):

  • Paulpietersburg, eDumbe Plaaslike Munisipaliteit (14)
    • Vryheid, AbaQulusi Plaaslike Munisipaliteit (24)
    • Newcastle, Newcastle Plaaslike Munisipaliteit (34)
    • Hluhluwe, Big 5 Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit (36)

“Die swak prestasie van vullisterreine in KwaZulu-Natal laat veel te wense oor. Vir ’n provinsie wat nagenoeg 20% van die land se bevolking moet bedien, is doeltreffende afvalbestuur ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het om mense en die omgewing. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp,” sluit Van Aswegen af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid, Magsmisbruik