|

Kaderontplooiing aan kern van verwoesting van Vrystaatse dorpe: AfriForum eis ingryping

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)
Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Engels)

AfriForum hou vol dat die jare lange volgehoue kaderontplooiing in Vrystaatse munisipaliteite tot die verwoesting van dorpe soos Reitz, Lindley en talle ander dorpe in dié provinsie gelei het. Die organisasie eis daarom dat die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, en die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DSRTS) nou dringend by die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit ingryp en dié verwoesting stop.

Dié eis volg in reaksie op die onlangse skokbevindings van ’n parlementêre oorsigkomitee wat ernstige bestuurs- en diensleweringsmislukkings in die Nketoana-munisipaliteit blootgelê het. Reitz, Lindley, Petrus Steyn en Arlington vorm deel van dié munisipaliteit.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, is die situasie in die Nketoana-munisipaliteit veral beroerd, hoewel verskeie ander dorpe in die provinsie reeds soortgelyke verval ondervind.

“Nketoana-munisipaliteit word nou gekenmerk deur algehele verval, buitensporige hoë skuld, ineenstorting van basiese dienslewering en die plundering van munisipale fondse. Dié kwessies is die direkte gevolg van die ANC se onverantwoordelike kaderontplooiingsbeleid wat oor jare heen bevoegde bestuur met politieke aanstellings vervang het. Kundigheid en integriteit het derhalwe plek gemaak vir politieke lojaliteit, en het daarom onafwendbare mislukkings ten koste van alle inwoners tot gevolg gehad,” verduidelik Grobbelaar.

AfriForum eis in sy skrywe, wat op 23 April 2026 aan Letsoha-Mathae en die Vrystaatse DSRTS gerig is, ingevolge artikel 139 van die Grondwet dringende provinsiale ingryping by die Nketoana-munisipaliteit; die onmiddellike afdanking van die burgemeester, Mamiki Mokoena; aanspreeklikheid vir finansiële wanbestuur in die munisipaliteit; en die stabilisering van die munisipaliteit se administratiewe en politieke leierskap.

“Die mense van die Nketoana-munisipaliteit en die breër Vrystaat word aan hul eie lot oorgelaat, terwyl onbevoegde en onverantwoordelike leierskap hier onverpoos voortgesit word. Dit kan nie langer geduld word nie,” beklemtoon Grobbelaar. “Solank as wat kaderontplooiing bo meriete gestel word, sal korrupsie floreer en gemeenskappe daaronder ly. AfriForum sal nie toekyk hoe ons dorpe vernietig word nie. Ons sal aanhou veg om munisipaliteite te red, belastingbetalers te beskerm en te verseker dat gemeenskappe die dienste ontvang waarop hulle geregtig is én waarvoor hulle betaal.”

AfriForum doen ’n beroep op inwoners van die Nketoana-munisipaliteit om saam te staan teen die vernietigende beleid van kaderontplooiing en die burgerregteorganisasie se petisie teen dié beleid hier te onderteken.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik