Ottosdal-tak hard aan die werk om dié dorp te verbeter
Die AfriForum-tak in Ottosdal het oor die afgelope twee en ’n half weke ’n groot skoonmaakprojek van stapel gestuur om die toestand van die dorp te verbeter, asook die veiligheid van die gebied op te skerp. Die tak het sewe groot leë erwe se gras gesny, takke verwyder en struike oopgesny sodat kwaaddoeners nie daarin kan skuil nie.
Meer as vier hektaar se gras is in hierdie tydperk gesny en selfs lede van die gemeenskap het ingespring om te help met die projek. ’n Boer in die omgewing van Ottosdal het onder meer sy trekker beskikbaar gestel om met die skoonmaak van die erwe te help. Verder het die tak ook die gras op sypaadjies gesny en meer as 10 sakke vullis verwyder.
“Dit is wonderlik om te sien hoe die gemeenskap hande vat en saamwerk om hul dorp weer op standaard te kry. AfriForum se Ottosdal-tak glo daarin om self in te gryp wanneer plaaslike munisipaliteite versuim om hul grondwetlike pligte na te kom, daarom kon hierdie tak eenvoudig nie terugsit en toelaat dat die dorp verder agteruitgaan nie. Die tak beplan verskeie groot projekte om Ottosdal weer die spog dorp te maak wat dit eens was,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
AfriForum se Ottosdal-tak wil graag die gemeenskap aanmoedig om by projekte betrokke te raak en saam aan ’n beter Ottosdal te werk. Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke om jóú omgewing te help verbeter en beveilig. Klik hier vir meer inligting.






