|

Nersa se KPI-plan futiel sonder afdwing van bestaande regulasies, waarsku AfriForum

Klankgreep: Morné Mostert (Afrikaans)
Klankgreep: Morné Mostert (English)

’n Futiele plan. Dít is hoe AfriForum Vrydag die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se plan vir die implementering van sleutelprestasie-aanwysers (KPI’s) vir munisipale kragverspreiders bestempel het. Die organisasie het sy mondelinge vertoë oor dié voorgenome plan tydens die openbare verhoor daaroor gelewer. Hiertydens het AfriForum benadruk dat Nersa se poging om die elektrisiteitsverspreidingskrisis in sukkelende munisipaliteite te beredder deur bykomende verslagdoeningsvereistes, nutteloos sal wees tensy die reguleerder konsekwent bestaande wetgewing, lisensievoorwaardes en gevestigde tegniese standaarde afdwing. 

Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, ondersteun die organisasie Nersa se doelwit vir die verbetering van die gehalte en betroubaarheid van munisipale elektrisiteitsvoorsiening. “Daar is egter reeds voldoende tegniese standaarde, regulatoriese bevoegdhede en lisensievoorwaardes om hierdie doel te bereik,” benadruk hy. “Die probleem lê nie by die gebrek aan bevoegdhede of standaarde nie, maar in die konsekwente regulatoriese monitering en afdwinging daarvan.”

Mostert hou vol dat Nersa sy gesag om munisipaliteite te ondersoek, lisensievoorwaardes af te dwing en lisensies op te skort of te herroep waar munisipaliteite herhaaldelik versuim om hul verpligtinge na te kom, moet afdwing. “In plaas daarvan om nog ‘n verslagdoeningsraamwerk te skep, moet die reguleerder die bevoegdhede wat hy reeds het, gebruik,” sê Mostert.

AfriForum het voorheen regstappe ingestel om Nersa te dwing om ’n tribunaal byeen te roep om oortredings van munisipale lisensievoorwaardes te ondersoek. Dit dui volgens AfriForum daarop dat die uitdagings waaronder die elektrisiteitsektor gebuk gaan, nie spruit uit ’n afwesigheid van wetlike gesag nie, maar uit die inkonsekwente uitoefening daarvan.

In sy mondelinge vertoë het Nersa AfriForum versoek om uit te brei oor hoe omsigtigheidsbeoordelings uitgevoer kan word en hoe KPI’s doeltreffend in regulerende besluitnemingsprosesse aangewend kan word. AfriForum sal verdere kommentaar aan Nersa voorlê.

AfriForum het daarbenewens daarop gewys dat omsigtigheidsassesserings moet bepaal of munisipaliteite hul elektrisiteitsverspreidingsbedrywighede doeltreffend, verantwoordelik en op ’n finansieel volhoubare wyse bestuur. Hierdie assesserings moet voorts ook bepaal of uitgawes en operasionele besluite redelik, noodsaaklik en in die belang van kragverbruikers is.

Die instelling van verpligte tegniese voldoeningsoudits – om te bepaal of munisipaliteite hul bestaande lisensievoorwaardes, erkende tegniese standaarde en statutêre verpligtinge nakom – is ook voorgestel.

“Die toepassing van ’n KPI-stelsel sal bruikbaar wees indien dit as ’n vroeë waarskuwingstelsel dien en gekoppel is aan duidelike regulatoriese gevolge. Dit moet Nersa in staat stel om verswakkende prestasie te identifiseer, ondersoeke te prioritiseer en toepaslike regulatoriese ingryping teweeg te bring en nie bloot dien as ’n verdere dokumentasie van die agteruitgang van munisipale elektrisiteitsinfrastruktuur en -lewering nie,” sluit Mostert af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik