AfriForum eis dringende optrede oor verval in Potchefstroom
AfriForum se Potchefstroom-tak eis in ’n formele skrywe aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit ’n regrukplan met duidelike sperdatums om die verval van munisipale dienste, infrastruktuur en openbare veiligheid in dié stad om te keer. Die burgerregteorganisasie eis dat die munisipaliteit dié plan, besonderhede van verantwoordelike amptenare en departemente sowel as beskikbare begrotings en hulpbronne vir die plan, teen 1 September moet lewer.


Die eis volg in reaksie op die langdurige en toenemende diensleweringsprobleme in die stad. Kwessies wat volgens AfriForum dringende aandag vereis sluit onder meer in: die voorkoms van rioolstortings en besoedeling van die Mooirivier, toenemende kragonderbrekings, slaggate en ’n verswakkende padnetwerk, foutiewe verkeers- en straatligte, verbleikte padmerkers, asook die gebrekkige instandhouding van openbare ruimtes.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, meen die storting van onverwerkte riool in die Mooirivier by onder meer die Bothastraat-pompstasie, en die oorloop van riool uit munisipale mangate op en naby privaat eiendom, wek veral kommer en hou ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s vir inwoners in. AfriForum eis dat dié besoedeling dringend gestaak word en dat die nodige rehabilitasie- en remediëringsmaatreëls ingestel word.
Die toenemende voorkoms en duur van kragonderbrekings moet ook volgens AfriForum dringend ondersoek word. Die organisasie wil onder meer weet watter voorkomende instandhouding op die elektrisiteitsnetwerk gedoen word en of munisipale tegnici oor voldoende voertuie, toerusting, onderdele en ander hulpbronne beskik om herstelwerk doeltreffend uit te voer.
Die toestand van Potchefstroom se paaie en verkeersinfrastruktuur is eweneens kommerwekkend, en AfriForum eis nou duidelikheid oor die munisipaliteit se asfalt-aanleg se bedryfstatus, die hoeveelheid asfalt wat vervaardig word en die aantal slaggate wat herstel is.
Die organisasie eis verder dat die munisipaliteit dringend aandag gee aan foutiewe straat- en verkeersligte, swak of ontbrekende padmerkers, oorgroeide openbare ruimtes, brandrisiko’s en algehele netheid in die munisipaliteit. Hierdie probleme raak nie slegs die voorkoms van die stad nie, maar hou ook direkte risiko’s in vir padgebruikers, voetgangers en die veiligheid van woon- en sakegebiede.
Volgens Pretorius betaal Potchefstroom se inwoners vir munisipale dienste en is hulle daarom geregtig op ’n veilige omgewing en infrastruktuur wat behoorlik onderhou word. “Hierdie probleme kan nie langer in isolasie beskou word nie. Wanneer riool in die rivier en op inwoners se eiendom beland, kragonderbrekings toeneem, paaie verbrokkel en straat- en verkeersligte nie werk nie, dui dit op ’n veel groter probleem met munisipale bestuur en instandhouding.”
Douglas Bourn, voorsitter van AfriForum se Potchefstroom-tak, meen die gemeenskap is keelvol vir leë beloftes. “’n Blote erkenning van ontvangs of vae beloftes dat daar aan die probleme aandag gegee sal word, is nie meer voldoende nie. Ons wil konkrete antwoorde, verantwoordbaarheid, sperdatums en sigbare optrede sien. Indien die munisipaliteit nie betekenisvol reageer nie, sal AfriForum die betrokke kwessies, waar nodig, na die toepaslike owerhede en regulerende liggame eskaleer en verdere regstappe oorweeg,” waarsku hy.
Raak vandag nog betrokke
Raak vandag nog betrokke by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag en help om jou omgewing skoon en veilig te hou. Kontak Douglas Bourn (083 232 1020) vir ’n kwotasie om van die Potchefstroom-buurtspan se uiteenlopende dienste gebruik te maak, en Cornelia Blignaut (073 390 4133) om by die buurtwag aan te sluit.



