Groot aanvraag sorg vir nóg vertonings van Semi-Soet – die musiekblyspel by Montecasino

Met amper twee weke voor die aanvang van Semi-Soet – die musiekblyspel se speelvak by Montecasino het gehore reeds daarop aangedring dat nóg vertonings bygevoeg word. Sommige vertonings van die gewilde Afrikaanse produksie, wat vanaf 4 September in Johannesburg te sien is, is reeds naby aan uitverkoop. AfriForum en Inhoud Huis Musiek het daarom besluit om nog vertonings beskikbaar te stel. Die bykomende vertonings sluit nog ’n Saterdag en Sondag in, asook ’n vertoning op Erfenisdag (24 September).

“Ons is so dankbaar vir die opgewondenheid dat ’n Afrikaans produksie weer in die Teatro by Montecasino ná meer as 10 jaar opgevoer word. Ons is innig dankbaar vir elke persoon wat die toekoms van Afrikaanse musiekblyspele op ’n nasionale verhoog soos die Teatro verseker,” sê Jacomien de Wet van Inhoud Huis Musiek.

“Repetisies vir die produksie se terugkeer is reeds in volle swang. Die span werk hard daaraan om Semi-Soet vir die Teatro-verhoog groter en beter as ooit tevore aan te bied. Die nuwe speelvak by die Teatro is spesiaal vir die ruimte aangepas, met nuwe kreatiewe elemente, groter visuele beelde, splinternuwe liedjies, verrassings en ’n groter rolverdeling,” sê Johan Vorster van Inhoud Huis Musiek.

Anel Alexander en Bobby van Jaarsveld.

Bobby van Jaarsveld en Anel Alexander is terug as die geliefde karakters JP en Jaci – twee mense wat voorgee om die perfekte paartjie te wees, net om te ontdek dat liefde soms op die mees onverwagse plekke wag. Die talentvolle Zöricke Snyman en Philip Schnetler, wat beide reeds Naledi-nominasies vir hierdie produksie ontvang het, gaan ook ’n terugkeer maak, asook Nadia Beukes, wat geen vreemdeling vir die Teatro se verhoog is nie.

Die verhaal is gebaseer op die gewilde romantiese rolprent met dieselfde naam, maar die verhaal is vir die verhoog uitgebrei met musiek deur Vorster en De Wet. Die resultaat is ’n oorspronklike Afrikaanse musiekblyspel waarin humor, romanse, musiek en energie saamkom. Daar is ook nuwe musiek vir hierdie speelvak geskryf waarvan een van die liedjies Rek Strek Baba deur Marcelle Peachreeds op alle digitale platforms vrygestel is.

Die ekstra vertonings gee gehore nou nóg geleenthede om Semi-Soet – die musiekblyspel op die Teatro se verhoog te beleef.

Die besonderhede van die musiekspel is soos volg:

Datum:                       Vanaf 4 September 2026

Plek:                           Teatro by Montecasino

Ekstra vertonings:   Donderdag, 24 September om 11:00 (Erfenisdag); Saterdag, 26 September om 15:00; en Sondag, 27 September om 13:00

Kaartjies:                   by www.semisoetmusiekblyspel.co.za beskikbaar

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners