Nama Khoi-munisipaliteit moet optree teen onwettige vullisstorting in Springbok


AfriForum doen ’n beroep op die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit om dringend op te tree teen die onwettige vullisterrein langs die N7 oorkant die gholfbaan by Springbok. Hierdie area hou tans ernstige omgewing-, gesondheid- en veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap in.
Die ophoping van huishoudelike afval, bourommel, plastiek, glas en ander materiale skep ’n negatiewe beeld vir die dorp. Daarbenewens hou dit ook ’n brandgevaar in en verhoog dit die verspreiding van peste en siektes.
AfriForum wys daarop dat die onwettige storting van vullis en ander afval streng verbode is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afvalwet 59 van 2008. Hierdie wet verbied die storting van afval op enige plek wat nie regmatig daarvoor gemagtig is nie. Voorts vereis hierdie wet ook dat afval verantwoordelik bestuur moet word ten einde skade aan die omgewing en openbare gesondheid te voorkom.
Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, het die situasie nou ’n punt bereik waar onmiddellike ingryping noodsaaklik is.
“Die huidige toestand van die area is onaanvaarbaar. Hierdie onwettige storting benadeel die omgewing, gemeenskap en die beeld van die dorp. Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om op te tree en volhoubare oplossings in plek te stel.”
AfriForum versoek die munisipaliteit om onmiddellik:
- die terrein te ondersoek en skoon te maak;
- maatreëls in te stel om verdere onwettige storting te voorkom;
- waarskuwingstekens op te rig;
- wetstoepassing teen oortreders te verskerp; en
- gereelde monitering van die gebied te doen.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en ‘n verskil in jou omgewing te maak.



