| | |

Oorwinning in matriekuitslae-saak: IR is verlof tot appèl geweier

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

In die saak rakende die publikasie van matriekuitslae, waar ’n volbank regters ten gunste van AfriForum en ander partye beslis het dat die uitslae wel gepubliseer mag word, is die Inligtingsreguleerder (IR) se aansoek om verlof tot appèl vanoggend geweier. Hierdie aansoek is op 12 Maart vanjaar aangehoor.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit ’n verligting dat die dispuut oor die publikasie van matriekuitslae nou uiteindelik opgelos is. “Dit is ’n oorwinning vir die publikasie van inligting wat in die openbare belang is,” sê sy.

Die saak het in 2022 begin toe die Departement van Basiese Onderwys (DBO) probeer het om die publikasie van die uitslae te verbied. In regstappe wat gevolg het, het die hof ten gunste van AfriForum en die ander betrokke partye beslis dat dit wel in die openbare belang was en dus moes voortgaan.

Aan die einde van 2024 het die IR probeer om te verhoed dat die DBO die 2024-matriekuitslae publiseer. Die IR se aansoek om ’n interdik hierteen te bekom, het egter misluk, waarna die saak oor die meriete gevolg het. In Desember 2025 het die volbank regters beslis dat matriekuitslae wel op openbare platforms gepubliseer mag word. Daarbenewens is bevind dat die gebruik van eksamennommers as die enigste identifikasiemiddel voldoende beskerming vir die privaatheid van matrikulante bied en dat die DBO wettiglik opgetree het deur nie die IR se instruksie na te kom om die uitslae te weerhou nie. Vandag se uitspraak het hierdie standpunt herbevestig.

Bailey beklemtoon dat die uitslag van die saak meer kwessies raak as net die publikasie van matriekuitslae. “Verskeie navorsingsvelde werk met inligting van individue wat slegs deur nommers of kodes geïdentifiseer kan word. Dit word juis gebruik om hul reg op privaatheid en anonimiteit te beskerm. Die feit dat die saak nou afgehandel is, beteken dat sulke data gebruik kan word en noodsaaklike navorsing kan voortgaan sonder vrees dat dit probleme kan veroorsaak.”

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners