Kakamas-skole nou veiliger ná AfriForum-tak padmerke verf, padtekens aanbring

AfriForum se Kakamas-tak het op 10 September ’n reuseveiligheidsprojek afgesluit by Laerskool Kakamas Sentraal en Hoërskool Martin Oosthuizen. Dit het onder meer behels dat twee spoedhobbels in Voortrekkerstraat oorgeverf word. Hierdie aksie verbeter veiligheid vir skoliere en voetgangers aangesien dié merke nou weer duidelik sigbaar is.
Die tak het ook twee toegee- en twee voetganger-tekens vervang. Die projek is moontlik gemaak deur verskeie borge en betrokkenes wat saam met AfriForum se Kakamas-tak gewerk het om dit ’n sukses te maak.
Kakamas se Verkeersdienste het die padverkeer met groot professionaliteit gereël, en AfriForum bedank hulle vir hul ondersteuning. Twee lede van die plaaslike uitgebreide openbare werkeprogram het ook gehelp met die verfwerk. Riaan Bruwer, ’n raadslid by die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit het sy kragopwekker beskikbaar gestel sodat boor- en skuurwerk gedoen kon word en boomtakke wat die padtekens versper het, gesnoei kon word.
“Hierdie projek het opnuut gewys dat ’n gemotiveerde gemeenskap nie hoef te wag vir iets om te gebeur nie, want ons spring sommer self in. Ek het self ingespring met ’n verfkwas tydens hierdie projek en dit laat mens regtig goed voel om te weet jy het bygedra tot ’n veiliger gemeenskap,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
AfriForum wil ook graag Kaap Agri Kakamas en Express Mark bedank vir die gebruik van hul blasers, borsels en verkeerskegels wat die projek se veiligheid en sukses verseker het.
“Hierdie projek was ’n ware gemeenskapsinisiatief, met almal wat hande gevat het om die dag ’n sukses te maak. Dit is egter net die begin – AfriForum se Kakamas-tak beplan nog verskeie projekte om die veiligheid en leefbaarheid rondom skole in Kakamas verder te verbeter,” sluit Strauss af.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak betrokke te raak en sodoende te help om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.



