Vele jong hande kan ’n groot verskil maak
Deur Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte
Deesdae beleef ons gereeld uitdagings rondom vullis, rommel en besoedeling. Dit is nie meer iets wat net in groot stede of op afgeleë stortingsterreine gebeur nie. Dit is oral rondom ons, in ons straat, in die parkie, op die skoolspeelgrond. Elke plastiekbottel wat rond lê, elke sakkie wat in ’n spruit of rivierstroompie of stormwaterpyp beland en elke stuk rommel wat in ’n park rondwaai, beïnvloed die gemeenskappe waarin ons woon, werk en ons kinders grootmaak.
Herwinning word dikwels gesien as iets wat “goed is vir die omgewing”, maar die waarde van herwinning strek veel verder. Herwinning help om stortingsterreine se las te verminder, besoedeling te verlaag, natuurlike hulpbronne te bespaar en by te dra tot ’n meer volhoubare toekoms vir mense en diere. In die proses leer mense ook om verantwoordelikheid te neem vir die onmiddellike omgewing waarin hulle woon.
Die suksesvolste gemeenskappe is dikwels nie noodwendig dié met die grootste begrotings of die mooiste infrastruktuur nie, maar dié waar inwoners besluit om saam verantwoordelikheid te aanvaar vir die ruimtes wat hulle deel. Wanneer mense hul omgewing begin versorg, verander iets fundamenteel: trots vervang apatie, betrokkenheid vervang onverskilligheid en gemeenskapsgees begin floreer.
Wanneer mense hul omgewing begin versorg, verander iets fundamenteel: trots vervang apatie, betrokkenheid vervang onverskilligheid en gemeenskapsgees begin floreer.
Hierdie beginsel is veral belangrik wanneer dit by kinders en jongmense kom. Gewoontes wat vroeg aangeleer word, word dikwels lewenslange gewoontes. ’n Kind wat leer om rommel op te tel liewer as om verby te stap, word ’n volwassene wat verantwoordelikheid aanvaar. ’n Kind wat verstaan waarom papier, plastiek en blikkies herwin moet word, dra daardie kennis oor na sy of haar huisgesin en beïnvloed dikwels die gedrag van maats, ouers en ander familielede.
Dit is juis waarom AfriForum se beplande Blink of Stink-herwinningsprojek saam met Herman die Herwinningsman so belangrik is. Die projek gaan oor veel meer as die insameling van herwinbare materiaal. Dit gaan oor die vorming van ’n nuwe geslag gemeenskapsbouers wat verstaan dat elke persoon ’n rol het om te speel in die versorging van hul omgewing.
Deur skole by ’n vriendelike kompetisie te betrek, word herwinning iets tasbaar en opwindend. Leerders kry die geleentheid om te sien hoe hul individuele bydraes saam ’n groter impak skep. Elke bottel, afvalpapier of koerant wat ingesamel word, word deel van ’n groter verhaal van verantwoordelikheid en rentmeesterskap.
Die projek bied ook ’n waardevolle geleentheid om die verband tussen skool, huis en gemeenskap te versterk. Wanneer leerders herwinbare materiaal van die huis af skool toe bring, word gesinne deel van die oplossing. Wanneer skole hul betrokkenheid vier, word gemeenskappe bewus van die verskil wat samewerking kan maak.
In ’n land waar rommel en onwettige storting toenemend ’n probleem word, kan ons nie wag dat iemand anders die oplossing bring nie. Die antwoord lê dikwels in eenvoudige, praktiese aksies wat op plaaslike vlak begin. ’n Skoon straat, ’n netjiese skoolterrein en ’n gemeenskap wat herwinning ernstig opneem, is die boustene van ’n beter omgewing vir almal.
Die vraag is dus nie of herwinning ’n verskil maak nie. Die vraag is hoeveel groter die verskil kan wees wanneer duisende leerders, ouers en onderwysers saam besluit om deel van die oplossing te wees.
Saam met AfriForum se herwinningsambassadeur Herman die Herwinningsman wil AfriForum nie net skole laat meeding nie, maar jong mense inspireer om te besef dat selfs die kleinste hande ’n groot verskil kan maak. Want wanneer ons ons omgewing laat blink, help ons ook om die toekoms van ons gemeenskappe te laat blink.



