| |

Mynaansoek langs Krugerwildtuin hou gevare in vir watersekerheid, landbou en vele meer, sê AfriForum

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum is weereens ten sterkste gekant teen Tenbosch Mining se jongste aansoek om ’n steelkoolmyn digby die Krugerwildtuin op te rig. In sy formele kommentaar aan Kimopax oor hierdie aansoek, het die organisasie onder meer gewys op die risiko’s van watersekerheid en besoedeling; die nabyheid aan die Krugerwildtuin en die kumulatiewe impak van mynbou en landbouwerksverliese op dié bewaringsgebied; asook die gebied se landbouwaarde. Hierdie kommentaar en besware is Vrydag ingedien in reaksie op die agtergrondinligtingsdokument en konsepomvangsverslag vir die voorgestelde mynregaansoek, insluitend die gepaardgaande afvalbestuurslisensie en watergebruiksaansoek. Kimopax is Tenbosch Mining se omgewingskonsultant, wat ook die vorige aansoek aangevoer het.

Die nuwe aansoekproses is in Februarie begin vir die oprigting van ’n ondergrondse steenkoolmyn met aansienlike bogrondse infrastruktuur, insluitend ’n verwerkingsaanleg, voorraadstapels, stortingsterreine, ’n slykbergingsfasiliteit, besoedelingsbeheerdamme en gepaardgaande waterbehandelingfasiliteite, sowel as kragvoorsiening- en padinfrastruktuur. Die gebied wat vir die myn geoormerk is, beslaan nagenoeg 5 500 ha en is geleë naby die suidelike grens van die Krugerwildtuin. In dié gebied word sterk gesteun op toerisme, landbou en ekologiese integriteit vir die gemeenskap se lewensonderhoud en die gebied se langtermyn- ekonomiese stabiliteit.

AfriForum beveg reeds sedert 2019 die beoogde planne vir die oprigting van ’n steenkoolmyn langs die wildtuin met kommentaar wat al in 2021, 2023, 2024 en 2025 ingedien is. Sedertdien is die aansoek om steenkool in die gebied te ontgin, verskeie kere onttrek en van nuuts af begin onder ’n nuwe maatskappynaam.

“Die openbaredeelnameproses en die onderliggende dokumentasie moet aan die wetlike minimum standaard voldoen. Waar die basiese eiendomsbeskrywings, “voetspoorinligting” en regulatoriese verwysings teenstrydig of verkeerd is, kan die proses nie as geldig beskou word nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

In sy kommentaar het AfriForum verder beklemtoon dat die gebied ’n hoogs sensitiewe omgewing is en het verklaar dat steenkoolmynbou nie so naby aan die Krugerwildtuin toegelaat moet word nie, veral waar die dokumentasie wat aan die publiek voorgelê word, teenstrydige en onvolledige inligting bevat.

“Ons boodskap bly steeds dat geen myn in hierdie soort gebiede ontwikkel mag word nie. Hierdie streek se toekoms hang af van die beskerming van die natuurlike bates wat dit onderhou,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf