AfriForum 20 jaar: Onthou jy nog? #1 (2006–2007)
AfriForum vier vandeesmaand sy 20ste bestaansjaar, en in dié reeks neem ons ’n voëlvlug oor die afgelope 20 jaar se suksesse, mylpale én selfs ’n paar komiese oomblikke in die organisasie se bestaan. Dié en vele meer gebeure is vervat in ’n 20 jaar-gedenkboek wat binnekort verskyn.
2006: Die geboorte van AfriForum
Op 26 Maart 2006 kom die nuus – ’n nuwe burgerregte-inisiatief, AfriForum, is pas deur die vakbond Solidariteit gestig. AfriForum se mediaverklaring hieroor het die stigting soos volg aangekondig: “’n Nuwe burgerregte inisiatief, AfriForum, is pas deur die vakbond Solidariteit gestig. AfriForum is gestig om ’n forum te bied vir die konstruktiewe aktivering van minderhede, soos Afrikaners en die breë Afrikaanse gemeenskap, tot deelname aan die openbare debat en aksies. Deelname, eerder as apatie, is volgens AfriForum die sleutel tot die skepping van ’n beter toekoms in Afrika vir almal wat geen ander tuiste as dié kontinent ken nie.”

2007: ’n Plakkershut op Kerkplein
In Junie 2007 het die inwoners van Wolmer in die noorde van Pretoria en verteenwoordigers van AfriForum vreedsaam betoog en ’n plakkershut op Kerkplein opgerig uit protes teen ’n besluit van die Tshwane-metroraad om behoeftige wit gesinne uit hul staatshuurhuise te skop. ’n Memorandum teen die “gedwonge verskuiwing” is aan raadslid Gabriel Twala oorhandig. Die aksie het vir heelwat opwinding gesorg toe ’n varkie wat deel van die plakkershut-uitbeelding was, op die plein ontsnap het en deur Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en ander aangekeer moes word. Die betoging het plaasgevind op die dag waarop die raad oor die toekenning van die huise moes stem en die raad het toe teen die uitsetting van die inwoners gestem.



