AfriForum eis onmiddellike optrede oor rioolbesoedeling in Upington



AfriForum doen ’n beroep op die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit om dringend op te tree om die voortdurende vrystelling van rou riool in Die Rand-woongebied die hoof te bied. Dié riool vloei vanaf die area naby die Kalahari-winkelsentrum na Die Rand-woongebied en van daar loop die onbehandelde riool in die Oranjerivier in.
Hierdie riool vloei reeds vir ’n geruime tyd al deur die woongebied onder Hoërskool Duineveld en Laerskool Oranje-Noord deur. Volgens AfriForum hou dit ernstige gesondheids- en omgewingsgevare in vir inwoners, leerlinge en die breër gemeenskap.
“Die stank is ondraaglik en die inwoners kla dat die reuk tot in die skole se klaskamers trek en veroorsaak dat dit moeilik is vir leerders om te fokus. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners in sulke omstandighede moet leef terwyl die probleem net toegelaat word om voort te duur sonder enige pogings om met ’n oplossing vorendag te kom,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.
Strauss voeg by dat rioolwater bakterieë, virusse en chemikalieë bevat wat siektes soos cholera, hepatitis en ander watergedraagde infeksies kan veroorsaak. Voorts is die besoedeling van die Oranjerivier nie alleenlik ’n plaaslike probleem nie, maar hou dit ook ’n bedreiging in vir landbou, biodiversiteit en watergehalte in hierdie streek.
Artikel 24 van die Grondwet bepaal dat elke persoon die reg het op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie. Daarbenewens vereis die Nasionale Waterwet 36 van 1998 dat besoedeling voorkom, beheer en herstel moet word. Dít is nie tans die geval in Upington nie en die munisipaliteit kan homself dus skuldig maak aan die oortreding van hierdie wette.
Volgens AfriForum is die water reeds verskeie kere by PathCare getoets en was raadslede asook munisipale amptenare bewus van die probleem en selfs teenwoordig toe van die watermonsters geneem is. Die organisasie is van mening dat daar nie voldoende stappe gedoen is om ’n permanente oplossing vir hierdie probleem te kry nie.
AfriForum-lede in die omgewing het ook reeds strafregtelike klagtes by die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak, maar tot dusver was daar nog geen sigbare vordering met die ondersoek nie.
AfriForum het in hul skrywe vir die Dawid Kruiper-munisipaliteit sewe werksdae gegee om skriftelike terugvoer te gee oor die stappe wat gedoen gaan word om die probleem permanent op te los. Verdere stappe sal oorweeg word indien die munisipaliteit versuim om terugvoer te gee.



