Dienslewering in Emfuleni ’n nagedagte nie ’n prioriteit – AfriForum eis antwoorde
AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ingedien oor sy voortgesette versuim om betroubare vullisverwyderingsdienste aan die inwoners van die Vaaldriehoek te lewer. Inwoners se vullis word soms slegs eenkeer ’n maand verwyder, ten spyte daarvan dat die munisipaliteit oor die afgelope ses jaar bykans R700 miljoen aan oortyduitbetalings bestee het.
Dié wisselvallige dienslewering het tot gevolg dat inwoners óf tussen hope vullis leef óf die risiko loop om self hul vullis by gevaarlike vullisterreine af te laai.
“Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit hanteer al te lank munisipale vullisverwydering as ’n nagedagte, eerder as ’n prioriteit. Gemeenskappe word gedwing om tussen vullis te leef, terwyl munisipaliteite voortgaan om belastingbetalers se geld sonder die nodige deursigtigheid of aanspreeklikheid te bestee. Hierdie situasie is nie net onaanvaarbaar nie, maar onvolhoubaar,” sê Maree van den Berg, distrikskoördineerder vir AfriForum.
AfriForum wil nou antwoorde by dié plaaslike munisipaliteit hê oor sy onvermoë om basiese dienste aan die inwoners van die Vaaldriehoek te lewer. “Volle deursigtigheid oor die toestand van dienslewering oor die afgelope 12 maande, asook die munisipaliteit se vermoë om dié diens te lewer en dit volhoubaar te doen, is nodig om die munisipaliteit te dwing om basiese vullisverwydering te behartig of die fooie wat daarvoor gehef word, te skrap,” sê Van den Berg.
Die Emfuleni-munisipaliteit het reeds in Februarie ’n splinternuwe vloot voertuie aangekoop met die doel om dienslewering in die streek te verbeter. Bewerings oor finansiële onreëlmatighede by die munisipaliteit, asook wanbesteding en korrupsie deur munisipale amptenare doen egter nou die ronde. Inwoners van die Vaaldriehoek is raadop en het AfriForum genader om uit te vind of openbare fondse behoorlik aangewend word.
“AfriForum is daartoe verbind om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir sy versuim om basiese dienste te lewer,” sê Van den Berg.
AfriForum het reeds gemeenskapsgedrewe inisiatiewe, insluitend vullisverwyderingsprojekte en skoonmaakaksies, in die gebied van stapel gestuur om die impak van wisselvallige dienslewering te mitigeer. Die organisasie sal voortgaan om hierdie pogings uit te brei, terwyl alles in die stryd gewerp word om aanspreeklikheid af te dwing en behoorlike bestuur te herstel.
AfriForum het intussen ’n petisie van stapel gestuur om druk op die Emfuleni-munisipaliteit te plaas om vullisverwydering te hervat. Die burgerregteorganisasie moedig inwoners aan om hul stem te laat hoor en die petisie te onderteken.



