Midwit-buurtspan sny gras dat die stof staan gedurende Januarie
Die AfriForum-buurtspan wat in Middelburg en Witbank bedrywig is, beter bekend as die Midwit-buurtspan, het gedurende Januarie toegesien dat dié dorpe se gras netjies gesny word. Die buurtspan het 7 ha gras gesny.
In Middelburg het die span vroeg reeds aan die werk gespring om skoon te maak en gras te sny in Kosmospark, Pongolapark, Verdoorn- en Limpopostraat.
“Hierdie span het werklik daad by die woord gaan voeg en help aktief om verval in Middelburg te keer. Ons weet dat die munisipaliteit nie genoegsame aandag aan netheid in ons dorp gee nie, maar ons kan nie net ons skouers optrek nie. Ons buurtspan tree op waar die munisipaliteit misluk,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van die AfriForum-tak in Middelburg.
Die buurtspan het in Witbank skoongemaak en gras gesny in O.R. Tambo-, Aquarius-, Duiker-, Klipspringer-, Bonsai- en Hartbeesstraat.
“In Witbank kan mens werklik die verskil sien waar die AfriForum-buurtspan gewerk het. Ons wil graag werk om ’n tweede span in die komende maande bymekaar te kry,” sê Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.
Ondernemings en inwoners wat hierdie buurtspan wil ondersteun kan ’n e-pos stuur na witbank@afriforumtak.co.za.



