NUUSKOMMENTAAR: Hou die diepere voor oë
Deur Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum
Wanneer ’n mens met inligting gekonfronteer word, of dit nou iets is wat jy lees, of oor die radio hoor, of op ’n skerm sien, is ’n mens se eerste instink (veral in ons gejaagde wêreld) om vinnig die opsigtelike te identifiseer en dan daarop te reageer. Dieselfde geld vir ’n vraag wat gevra word – ’n mens dink vinnig en antwoord. Soms ervaar ’n mens egter tydens so ’n interaksie ’n ongemaklikheid wat nie noodwendig dadelik geplaas kan word nie. Op hierdie punt moet ’n mens die tyd neem om die oorsprong van hierdie ongemaklikheid van binne te oorweeg.
Elke mens het, wetend of onwetend, onderliggende waardes of ’n ideologie wat ’n mens se optrede bepaal. Ongemak met ’n vraag of inligting word gewoonlik veroorsaak wanneer die onderliggende aannames of ideologie van die vraag of inligting nie met ’n mens se eie strook nie.
Een ideologie waarmee ’n mens in die samelewing, maar veral in die akademie gekonfronteer word, is postmodernisme. Die ideologie verwerp die objektiewe waarheid en lê klem op relatiwiteit en subjektiwiteit en bekyk die wêreld deur ’n bril van mag-kennis-verhoudings. Dit is ook gekant teen vaste betekenis, hiërargie en sekerheid. Meesterverhale van vooruitgang word totaal verwerp.
Gemak is die vyand van vryheid. Vryheid is die moeite werd, maar kom nie verniet nie. Die vraag is: Is die vryheid om jou Godgegewe roeping uit te leef, waar Hy jou ook al geplaas het, vir jou belangrik genoeg om te doen wat nodig is om dit te behou?
’n Klassiek-konserwatief-Christelike lewensbeskouing staan lynreg teenoor die postmodernisme. Hierdie lewensbeskouing dring ’n mens om te streef na deugdelikheid, om te streef na dit wat waar en goed en mooi is. ’n Mens kan nie streef na iets wat nie bestaan nie, en daarom glo hierdie beskouing dat dít wat waar en goed en mooi is werklik is en ontdek kan word. Hierdie benadering glo aan die verbond tussen die geslagte, dat die mens ’n plig het om, dit wat van die voorouers ontvang is, in ’n beter toestand aan die volgende geslag na te laat. ’n Mens is nie bloot ’n wese wat toevallig bestaan nie, maar ’n Godgeskape wese wat hier op aarde is met ’n doel – ’n roeping. ’n Mens is ook nie slegs ’n individu of burger in ’n nasiestaat nie – ’n mens is deel van tussenliggende instellings, dit wat tussen die individu en die staat lê: gesinne, families, gemeentes, kultuur- en plekgemeenskappe, skole, ensovoorts.
’n Mens wat glo dat die ware, en die goeie en die skone bestaan, leef met ’n doel, met hoop, met nederige sekerheid – selfs onder die onmoontlikste omstandighede. Postmodernisme kan ’n mens maklik van hierdie mooi dinge, wat die lewe die moeite werd maak, stroop.
Daarom is dit belangrik om deurgaans die diepere voor oë te hou, en sigself af te vra wat onder ’n vraag of ’n stuk inligting lê. Wanneer die dieperliggende, die aanname binne die vraag, nie strook met wat vir ’n mens belangrik is nie, moet dit aan die kaak gestel word. Daarom is dit soms noodsaaklik om teen woorde en dade op te tree, nie altyd as gevolg van die woorde en dade self nie, maar as gevolg van die idees, die ideologie, wat dit onderlê. Want – idees het impak, dit lei uiteindelik tot optrede met gevolge vir mense. Wanneer ’n verkeerde idee eers vastrapplek gekry het, word dit nie weer maklik uitgeboender nie.
Gemak is die vyand van vryheid. Vryheid is die moeite werd, maar kom nie verniet nie. Die vraag is: Is die vryheid om jou Godgegewe roeping uit te leef, waar Hy jou ook al geplaas het, vir jou belangrik genoeg om te doen wat nodig is om dit te behou?



