AfriForum takel leë erwe om misdadigers uit Vryburg te hou
Die AfriForum-tak in Vryburg het sedert die begin van die jaar verskeie skoonmaakprojekte aangepak in ’n poging om skuiling vir misdadigers in leë erwe te verminder en sodoende misdaad in areas uit te roei. Tot dusver is daar al meer as agt leë erwe skoongemaak en ’n totaal van 1,1 hektaar se gras gesny. Die lang gras by die ingange van die dorp hou ook ’n gevaar in vir motoriste, daarom word dit instandgehou om ’n veiliger omgewing vir almal te verseker.
“Die AfriForum-tak in Vryburg is hard aan die werk om weg te doen met moontlike wegkruipplekke vir misdadigers. Leë erwe is die perfekte plek vir misdadigers om te skuil en maak dit ook moeilik om hulle tydens patrollies op te merk. Die tak se buurtspan het die taak om ’n skoner en veiliger omgewing vir al die inwoners te skep, op hulself geneem” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Intussen beplan die tak verskeie opleidingsessies vir buurtwaglede, asook selfverdedigingsopleiding vir die gemeenskap. Verder gaan die tak voort met skoonmaakprojekte en beplan om die buurtspan uit te brei om meer volhoubare projekte in die gemeenskap aan te pak.
Die Vryburg-tak wil graag die gemeenskap aanmoedig om by AfriForum aan te sluit om meer projekte soos hierdie moontlik te maak. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.




