AfriForum waarsku oor gevaarlike R59-pad en eis dringende herstelwerk voor Nampo-oesdag
AfriForum doen ’n beroep op die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer om dringend in te gryp by die haglike toestand van paaie in en om Viljoenskroon. Hierdie paaie hou ’n ernstige veiligheidsrisiko vir padgebruikers in, veral met die jaarlikse Nampo-oesdag om die draai. Die organisasie lê in besonder klem op die toestand van die R59 – een van die hoofroetes na die Nampo-terrein in Bothaville. ’n Gedeelte van dié pad is reeds vir maande oorstroom en afgesluit, terwyl groot dele daarvan tussen Viljoenskroon en Vredefort met slaggate en ernstige strukturele skade besaai is.
Luidens ’n brief wat AfriForum vandag aan die departement gestuur het, word motoriste tans deur Viljoenskroon herlei. Dié dorp se strate is egter ook in ’n haglike toestand en word nie behoorlik deur die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit onderhou nie. Die gevolg is dat duisende besoekers wat Nampo wil bywoon, gedwing word om op verwoeste paaie te ry. AfriForum se brief is ook aan die munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Padagentskap vir ingryping gestuur.
Hoewel ’n gedeelte van die R59 al geruime tyd onder konstruksie is, word geen vordering gemaak nie. AfriForum het ook ernstige kommer uitgespreek oor die standaard van werk wat die aangestelde kontrakteur tot dusver verrig het op die R59 en Fortunastraat-projek.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die toestand van die paaie nie net ’n infrastruktuurprobleem nie, maar ook ’n direkte veiligheidsrisiko vir padgebruikers. “Met duisende besoekers wat na verwagting die Nampo-oesdag sal bywoon, kan die huidige toestand van die paaie tot ernstige ongelukke lei. Dringende ingryping is nodig voor die oesdag oor sowat twee maande afskop,” eis Grobbelaar.
AfriForum het ook ’n openbare petisie van stapel gestuur waarin inwoners en padgebruikers die regering kan versoek om dringend op te tree. Elke persoon wat die petisie onderteken, sal ook ’n formele klagte laat registreer by die relevante owerhede.
“Die regering het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat openbare infrastruktuur veilig en bruikbaar is. Die huidige toestand van die paaie om Viljoenskroon is onaanvaarbaar en stel duisende mense se veiligheid in gevaar,” sê Grobbelaar.
AfriForum moedig alle inwoners, boere en padgebruikers aan om die petisie te onderteken en hul stem te laat hoor.







