| | |

Knysna-buurtspan rol moue op en maak ’n verskil gedurende April

Die AfriForum-buurtspan in Knysna het gedurende April gewys dat hulle nie terugdeins vir harde werk nie. Dié span, wat deel vorm van die organisasie se Knysna-tak, het in hierdie tyd verskeie projekte in Knysna en Sedgefield aangepak om die omgewing te verbeter midde van diensleweringstekorte vanaf die munisipaliteit.

Dié span het sowat 1 300 m² gras in ’n oop stuk veld in die Rexford area gesny en ’n verdere 600 m² gras by ’n oop erf in Sedgefield gesny.

Daarbenewens het die buurtspan ook hul slag gewys wanneer dit kom by die herstel van slaggate. Daar is ongeveer 5 ton teer ingespan om slaggate op verskeie plekke in Knysna te herstel. Die span het onder meer 3.4 ton teer ingespan om ’n reuseslaggat in Lloydstraat te herstel. Gemeenskapslede het fondse ingesamel om hierdie aksie ’n sukses te maak. Die span het ook spoedhobbels in Dikkopstraat oorgeverf sodat dit duideliker sigbaar is veral in die aande.

“Ons glo dat ware vooruitgang moontlik is wanneer gemeenskappe eienaarskap neem van hul omgewings, en deur praktiese aksies soos hierdie hul omgewing verbeter. Inwoners moet besef dat die enigste verweer teen verval en agteruitgang weerbare en georganiseerde gemeenskappe is,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum bly daartoe verbind om praktiese oplossings te bied en volhoubare projekte te dryf wat gemeenskappe bevoordeel.

Een van die tak se volhoubare inisiatiewe is ’n betroubare herwinningsdiens wat aan inwoners en besighede gebied word. Belangstellendes kan inteken vir ’n weeklikse diens teen R240 per maand of ’n tweeweeklikse diens teen R140 per maand, dit sluit ’n groen wieldrom in. Hierdie projek dien as ’n praktiese oplossing om die uitwerking van Knysna se vulliskrisis te help versag.

AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots.

Sluit vandag nog aan by die Knysna-tak, en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf