|

Kubermisdaad: Beskerm jouself só

Deur Marthinus Koekemoer

Kubermisdaad jaag die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks nagenoeg R2,2 miljard uit die sak, en terwyl dié misdaad in sy verskeie vorme veral plaaslik toeneem, is oningeligtes nou meer as ooit tevore die doodmaklike teiken van slinkse kubermisdadigers. Om verbruikers teen dié komplekse en snelveranderende tipe misdaad te beskerm, het AfriForum pas ’n kubermisdaadgids bekendgestel. Dié gids is nie net daarop gemik om verbruikers te help om die verskillende vorme van kubermisdaad te identifiseer nie, maar bied ook die feite oor hoe kubermisdaad werk en gee praktiese raad en wenke om te verhoed dat jy die slagoffer van dié misdaad word.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid en samesteller van dié gids, stel dit duidelik: “Kubermisdadigers teiken nie net groot maatskappye nie. Hulle teiken ook gewone mense, gesinne en klein ondernemings.”

Omdat kubermisdaad boonop nou omvorm het tot verfynde en uiters geloofwaardige bedrogpogings wat nie net kunsmatige intelligensie (KI) inspan nie, maar ook gebruik maak van gevorderde manipulasie en misleiding, is kennis van kubermisdade – insluitende onder meer uitvisaanvalle (in Engels bekend as phishing attacks), SIM-uitruilbedrog en gevorderde sosiale-ingenieurswesebedrognoodsaaklik.     

Uitvisaanvalle

Uitvisaanvalle, die algemeenste kubermisdaadbedreiging in Suid-Afrika, vind plaas wanneer misdadigers bedrieglike e-posse, SMS’e of WhatsApps stuur of jou bel en voorgee dat hulle wettige organisasies soos banke, koeriers, diensverskaffers of selfs ’n staatsdepartement verteenwoordig. Die doel is om ’n verbruikers se intekenbesonderhede vir aanlyn bankdienste, wagwoorde, kredietkaartnommers en dies meer te bekom.

Wees bedag op die volgende tekens van moontlike uitvisaanvalle:

  • Dringende optrede word geëis. (Daar word byvoorbeeld versoek dat jy onmiddellik optree om te verhoed dat jou bankrekening geblokkeer word.)
  • Jy word versoek om jou vertroulike of persoonlike inligting te verifieer.
  • Jy word versoek om ’n skakel te volg.
  • Die taalgebruik en spelling in boodskappe of e-posse is swak of foutief.

Beskerm jouself só teen uitvisaanvalle:

  • Moenie op verdagte skakels klik of QR-kodes skandeer nie.
  • Kry toegang tot jou bank se webwerf deur dit direk in te tik in die blaaierlyn.
  • Moet nooit jou wagwoorde of eenmalige PIN-nommers met iemand anders deel nie.
  • As jy onseker is oor ’n oproep, beëindig dit eerder en kontak die organisasie deur hul amptelike nommer te skakel.
  • Gebruik ’n oproepidentifikasie-toepassing (soos Truecaller) om  verdagte of strooi-oproepe uit te sif.

SIM-ruilbedrog

Telekommunikasiebedrog – waarvan ’n deel ook as kubermisdaad geklassifiseer word –kos die Suid-Afrikaanse ekonomie volgens die Communications Risk Information Centre (COMRiC) jaarliks nagenoeg R5,3 miljard. Sogenaamde SIM-ruilbedrog (onder meer ook bekend as SIM-kaping) is ’n ernstige kubermisdaad en vorm van telekommunikasiebedrog wat ’n groot bedreiging inhou vir Suid-Afrikaanse verbruikers.

Dié misdaad behels kortliks die ruiling van ’n SIM-kaart met die doel om bedrog te pleeg. In die proses sal misdadigers PIN-nommers onderskep en wagwoorde verander om onder meer toegang tot die verbruiker se bankrekening te kry.

Tekens van moontlike SIM-ruilbedrog sluit onder meer in:

  • onverwagse versoeke om jou SIM te ruil;
  • ongevraagde boodskappe om wagwoorde te verander; of
  • ’n skielike en onverklaarbare verlies in netwerksein.

Beskerm jouself só teen SIM-ruilbedrog:

  • Indien jy vermoed jy word geteiken, kontak dadelik jou selfoondiensverskaffer en verwittig hulle van verdagte optrede.
  • Oorweeg die implementering van ekstra sekuriteit (soos die gebruik van ’n bykomende wagwoord en die waarskuwingskommunikasie deur jou bank se selfoontoepassing).
  • Vermy die deel van sensitiewe inligting op sosiale media.

KI-aangedrewe en gevorderde sosiale-ingenieurswesebedrog

KI het ’n waardevolle hulpmiddel geword wat baie waarde kan toevoeg. Dit kan ongelukkig ook vir kubermisdaad aangewend word. Voorbeelde van kubermisdaad wat van KI gebruik maak, is onder meer die gebruik van diep vervalsing of stemkloning. In dié gevalle word KI ingespan om vals video’s of klank te skep wat onder meer familielede, bankpersoneel of bekendes naboots. Die gebruik van vervalste beleggingsadvertensies is ook plaaslik gewild onder misdadigers.

Tekens van moontlike KI-misdaad sluit onder meer in:

  • ongewone sinskonstruksie of stemme;
  • dringende versoeke vir die oorbetaling van geld na veral kriptorekeninge; en
  • geleenthede, beleggingsopbrengste of pryse wat te goed klink om waar te wees.

Beskerm jouself só teen KI-misdaad:

  • Verifieer die betroubaarheid van ’n video-oproep deur lewendige bewyse te versoek (soos om die operateur te vra om byvoorbeeld iets in sy fisieke omgewing op video te vertoon wat nie in diep vervalste-video’s moontlik sal wees nie).
  • Moenie versoeke vir die aflaai van ’n selfoontoepassing tydens ’n oproep of via ’n video toestaan nie.
  • Meld verdagte gedrag dadelik by die toepaslike platform aan.

Laai AfriForum se  volledige kubermisdaadgids hier af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid