|

Chrissiesmeer-tak bewys dat selfbestuur moontlik is

AfriForum se Chrissiesmeer-buurtspan, wat skaars twee jaar gelede op die been gebring is, het opnuut bewys dat selfbestuur ’n moontlikheid in dié dorp is. Een van die maniere wat hierdie tak maandeliks ’n wesenlike verskil maak, is deur geen gras onder sy voete te laat groei nie. Die tak het in Februarie altesaam 11 hektaar se gras gesny.

Millicent van den Heever, voorsitter van AfriForum se Chrissiesmeer-tak, sê die buurtspan sny maandeliks die sypaadjies in Bothwell-, Carolina-,  King Edward-, Percy-, Meyer-, Michelle-, Campbell-, Simmer- en Jackstraat. Verder is al die ingange tot die dorp vanaf Breyten, Ermelo en Carolina netjies skoongesny.

Die buurtspan het verder sy aandag op die Chrissiesmeer-begraafplaas toegespits en die gras op die terrein skoongesny. Die span het ook die gedenkmonument skoongemaak, ’n leë erf langs die poskantoor opgeruim en ’n projek van stapel gestuur om die terreine waarop die vervalle tennisbane is, skoon te sny.

“In ons klein dorp, wat hoofsaaklik van toerisme afhanklik is, het ons ’n groot taak om die dorp netjies te hou. Indien dit nie plaasvind nie sal die dorp se ondernemings daaronder ly,” sê Van den Heever.

Die tak het 89 sakke vullis uit vullisdromme verwyder wat AfriForum oor die dorp heen opgerig het. Altesaam 174 sakke vullis is sedert Januarie uit hierdie vullisdromme verwyder. AfriForum het ook bystand gelewer deur al die dorp se vullis te verwyder toe die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit versuim het om dit te doen.

“In ’n dorp so klein soos Chrissiesmeer kan die verskil wat AfriForum maak onmiddellik raakgesien word. Dit dien as bewys dat as genoeg mense saamstaan dat selfbestuur in werklikheid wel moontlik is en dat inwoners selfstandig kan funksioneer,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Besoek www.wordlid.co.za en sluit vandag nog by die burgerregteorganisasie aan.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf