Kuruman-Kathu-tak skenk stofie aan Klein Plaas Educare

AfriForum se Kuruman-Kathu-tak het onlangs ’n nuwe stofie aan Klein Plaas Educare in Deben geskenk. Dit vorm deel van die tak se skoleverbeteringsprojekte wat hulle vanjaar aanpak.
Klein Plaas Educare het verskeie opgraderingsprojekte gedoen om dié sentrum se fasiliteite te verbeter. Een van hierdie projekte het onder meer die vervanging van die bestaande stoof behels.
“Ons wil graag hê dat ons skoleverbeteringsprojek ’n tasbare verskil in ons gemeenskap moet maak. Die skenking aan Klein Plaas Educare is ’n klein, maar praktiese bydrae wat ’n verskil aan die kinders en personeel se daaglikse behoeftes kan maak. Ons is dankbaar dat ons as tak iets konkreet kon doen om Klein Plaas Educare te ondersteun,” sê Jan-Daniël Cruywagen, voorsitter van AfriForum se Kuruman-Kathu-tak.
Die eienaar, Angelique Burke, en juffrouens Mart-Mari Scholtz, Regaina Windstaan, Lucia Job en Tanya Pretorius het hul opregte waardering vir die skenking uitgespreek.
In ’n Facebook-plasing het Klein Plaas geskryf: “Ons is ongelooflik dankbaar vir hierdie wonderlike skenking. Dit gaan ’n groot verskil by Klein Plaas maak en ons waardeer AfriForum se ondersteuning en omgee opreg.”
AfriForum glo dat gemeenskappe deur praktiese betrokkenheid ’n tasbare verskil kan maak. Die skoleverbeteringsprojek bied aan die Kuruman-Kathu-tak die geleentheid om plaaslike skole en opvoedkundige sentrums met praktiese behoeftes te ondersteun.
Sluit aan by AfriForum en wees deel van die verskil. Besoek www.wordlid.co.za.



