| | |

Chloortekort by Bothaville-rioolwerke ’n gevaar vir openbare gesondheid, maan AfriForum

Chloor speel ’n belangrike rol in die ontsmetting van afvalwater voordat behandelde uitvloeisel in die omgewing vrygestel word. Die gebrek daaraan kan die doeltreffende behandeling van afvalwater in gedrang bring en ’n moontlike risiko vir openbare gesondheid, watergebruikers stroomaf én die omgewing inhou.

Dít is waarom AfriForum alarm gemaak het nadat daar tydens ’n onlangse besoek aan die Bothaville-rioolwerke bevind is dat geen chloor vir die ontsmettingsproses beskikbaar was nie. Die burgerregteorganisasie het aan die Nala Plaaslike Munisipaliteit geskryf om antwoorde oor die situasie te eis.

“Dit is uiters kommerwekkend dat ’n noodsaaklike middel soos chloor nie by ’n munisipale rioolwerke beskikbaar is nie. Rioolbestuur raak elke inwoner en die gevolge van gebrekkige behandeling kan veel verder as die grense van die aanleg strek. Die munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie infrastruktuur behoorlik funksioneer en dat inwoners en die omgewing nie onnodig aan risiko’s blootgestel word nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

AfriForum eis onder meer dat die munisipaliteit aandui hoe lank die aanleg reeds sonder chloor was, waarom die tekort ontstaan het en of chloor intussen verkry is. Die organisasie wil ook weet watter alternatiewe ontsmettingsmaatreëls ingestel is en of behandelde of gedeeltelik behandelde uitvloeisel gedurende dié tydperk vrygestel is. Daarbenewens het AfriForum laboratoriumuitslae aangevra, insluitend resultate vir E. coli of fekale kolivorme waar van toepassing.

“Ons kan nie wag totdat grootskaalse besoedeling plaasvind of siektes uitbreek voordat daar opgetree word nie. Voorkoming en behoorlike instandhouding moet die norm wees. AfriForum sal daarom hierdie aangeleentheid noukeurig opvolg,” voeg Pretorius by.

Indien dit voorkom asof onbehandelde of onvoldoende behandelde uitvloeisel in die omgewing gestort is, behou AfriForum die reg om die aangeleentheid na die Departement van Water en Sanitasie en ander toepaslike owerhede te verwys.

Raak by Bothaville se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak CP Scheepers by 079 717 3830 om by die tak aan te sluit en vir Dolf Meyer by 073 810 9568 om by die buurtwag aan te sluit.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf