AfriForum-verslag onthul brutaliteit van plaasaanvalle
’n Nuwe AfriForum-verslag, waarin 47 afsonderlike gewelddadige plaasaanvalle wat oor ’n tydperk van sewe jaar plaasgevind het, bestudeer is, toon ’n herhalende patroon van marteling waarin plaasaanvallers verskeie geïdentifiseerde metodes inspan om slagoffers fisiek en emosioneel te mishandel. Dié verslag getiteld More than robbery: Violence during attacks on farms and smallholdings in South Africa, 2019–2025 is vandag bekendgestel en bevestig dat die buitensporige geweld wat sommige plaasaanvalle kenmerk, daarop wys dat plaasaanvalle nie blote roof is nie.
Die burgerregteorganisasie kom deur dié studie tot die gevolgtrekking dat die gebruik van geweld tydens die bestudeerde plaasaanvalle sodanig is dat dit wel as marteling geag kan word; dat marteling tydens plaasaanvalle ’n verskynsel is wat oor die hele land voorkom; en daar aangevoer kan word dat plaasaanvalle ’n uitsonderlike tipe misdaad is.
AfriForum se navorsing toon dat slagoffers in die bestudeerde aanvalle telkens gemartel, verbrand, gesteek en verwurg is en aan ernstige fisieke, emosionele en seksuele mishandeling onderwerp is. Vier sleutelbevindinge word in die studie gemaak en wys daarop dat plaasaanvalle waar marteling voorkom ooreenkomste toon ten opsigte van die wapens wat gebruik word, die fisieke beserings van slagoffers, die gebruik van afpersing, en die gebruik van buitensporige geweld.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is die uiters gewelddadige aanvalle wat bestudeer is, nie net tot een deel van die land beperk nie. “Dié wrede aanvalle kom in elke provinsie voor en bevestig dat plaasaanvalle ’n nasionale landelike veiligheidsprobleem is wat ’n doelgerigte en gespesialiseerde reaksie vereis,” verduidelik Broodryk.
AfriForum doen daarom weer eens ’n beroep op die regering om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te erken, en soos ander prioriteitsmisdade (insluitende transitorowe, geslagsgebaseerde geweld, onwettige mynbou en onwettige handel in wild) deur middel van ’n gespesialiseerde benadering en strategieë te bekamp.
“Indien die regering die unieke aard van transitorowe en onwettige wildhandel kan erken en gespesialiseerde strategieë daarvoor kan ontwikkel om daardie bedreigings te bekamp, is daar geen logiese rede waarom plaasaanvalle anders hanteer moet word nie,” benadruk Broodryk. “Die aard van plaasaanvalle vereis gespesialiseerde intelligensie, doelgerigte ondersoeke, toepaslike polisiëringshulpbronne en doeltreffende samewerking met landelike gemeenskappe.”
AfriForum doen ook ’n beroep op die regering en politieke leiers om opruiende en haatlike retoriek wat teen Suid-Afrika se boerderygemeenskappe gerig is – soos die “Kill the Boer”-dreunsang – onomwonde te veroordeel.
“Politieke leiers kan nie aanvoer dat hulle ernstig is oor die bekamping van geweld, maar swyg wanneer opruiende retoriek wat ’n spesifieke gemeenskap teiken, genormaliseer word nie,” sê Broodryk.
AfriForum se jongste verslag bevestig voorts dat landelike gemeenskappe dit nie kan bekostig om slegs op die staat se reaksie op geweldsmisdaad staat te maak nie. “Terwyl die grondwetlike verantwoordelikheid vir openbare veiligheid by die regering berus, moet gemeenskappe bemagtig word om ’n aktiewe rol te speel om hulself te beskerm, veral waar polisiehulpbronne en reaksiekapasiteit onvoldoende is,” beklemtoon Broodryk.
AfriForum sal daarom voortgaan om sy 178 buurt- en plaaswagte uit te brei en te versterk, en te belê in die opleiding van vrywilligers en die uitbreiding van sy gespesialiseerde reaksievermoë, tegnologie en kommunikasienetwerke. Omdat die fisieke en emosionele gevolge van plaasaanvalle verder strek as die onmiddellike misdaadtoneel, sal die organisasie ook die kapasiteit van sy traumaeenheid uitbrei, en voortgaan om plaasaanvalle te dokumenteer. AfriForum sal ook aanhou om die realiteite wat landelike gemeenskappe ten opsigte van misdaad ervaar, bloot te lê en druk op die regering uit te oefen om die doeltreffende implementering van die nasionale landelike veiligheidstrategie te verseker.



