Hof sal ná 20 jaar uiteindelik sê oor Nengwane-dood




Solomon (Solly) Nengwane se familie sal nou, twee dekades ná Solomon in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se aanhouding gesterf het, weet of enigiemand verantwoordelik gehou kan word vir sy moord. ’n Formele ondersoek na sy dood sou aanvanklik in April 2021 in die landdroshof in Brits begin het, maar ná vyf jaar se uitstel het die hof uiteindelik AfriForum se privaatvervolgingseenheid se aansoek vir ’n informele ondersoek toegestaan. Die hof sal nou sy besluit maak gebaseer op die feite wat in die dossier vervat is sonder om getuienis aan te hoor.
Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die persone van belang in hierdie saak opsetlik die finalisering van die ondersoek vertraag ten einde aanspreeklikheid vry te spring. Nel meen dat die enigste bevinding wat gemaak kan word is dat lede van die SAPD prima facie verantwoordelik was hiervoor.
Die saak is aanvanklik vir strafregtelike vervolging op die rol geplaas, maar is in November 2020 deur adv. Sibongile Mzinyathi, direkteur van Openbare Vervolgings, teruggetrek en verwys vir ’n ondersoek.

Die persone van belang in hierdie saak wat na bewering verantwoordelik was vir of betrokke was by Nengwane se dood is voormalige SAPD-beamptes Jan Mabula, Samuel Kutumela, Vekela Moholoane, Abram Losoba en Mpikwa Makhubo. ’n Huidige misdaad intelligensie beampte, luitenant-kolonel Ismael Dawood is ook ’n persoon van belang. Mabula is ’n voormalige generaal-majoor en was ook die adjunk provinsiale polisiekommissaris wat verantwoordelik was vir misdaad-opsporing in die Noordwes toe hy in 2020 afgetree het.
Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Nengwane se familie. Die 42-jarige Nengwane was een van vyf mense wat in 2006 in hegtenis geneem en ondervra is ná miljoene Amerikaanse dollar en dwelms by die Benoni-polisiestasie gesteel is. Mabula was die bevelvoerder van die operasie wat tot Nengwane se arrestasie gelei het. Nengwane het gedurende die aand van 6 tot 7 Junie 2006 gesterf terwyl hy in polisieaanhouding was, en sy liggaam is later by ’n hospitaal afgelaai nadat rigor mortis reeds begin het. Die betrokkenes se weergawe is dat Nengwane, terwyl hulle hom op ’n sogenaamd “uitwysing” gevat het, begin sukkel het om asem te haal en dat hulle hom na die Dr. George Mukhari Hospitaal geneem het vir behandeling. Die dokter wat Nengwane ondersoek het, het egter gesê dat Nengwane waarskynlik al vir minstens twee tot drie ure dood was teen die tyd wat hulle hom hospitaal toe geneem het.
Nel argumenteer dat die persone van belang vervolg moet word. Nel voer aan dat die aanvanklike klag hervat moet word en dat die persone wat Nengwane vermoor het, asook die medepligtiges, aangekla moet word van moord en regsverydeling. “Die voortdurende afwesigheid van aanspreeklikheid in hierdie soort saak verteenwoordig ’n diepgaande mislukking van geregtigheid. Min dinge kan meer verwoestend wees vir ’n bedroefde familie as om waarheid, afsluiting en geregtigheid ontsê te word waar ’n geliefde gesterf het terwyl hy in die sorg van die polisie was.”
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het hierdie saak die wyse waarop wetstoepassers die strafregstelsel blyk te misbruik om aanspreeklikheid te vermy blootgelê. “Die Solomon Nengwane-saak is veral van belang in ’n tyd waarin die Madlanga-kommissie blootlê hoe polisiebeamptes beweerde misdadigheid probeer verbloem. Vir die afgelope vyf jaar het die persone van belang die ondersoek probeer ontwrig en verhinder om te begin. AfriForum se privaatvervolgingseenheid is egter vol vertroue dat daar genoegsame bewyse in die dossier is om die ondersoeklanddros in staat te stel om die nodige bevinding in terme van die Ondersoekwet te maak en die direkteur van Openbare vervolgings te oortuig om wel te vervolg.”
Die hof sal na verwagting sy besluit voor einde Julie maak.



