| | | | |

AfriForum betwis onwettige heffing op huishoudings met sonpanele in Thaba Chweu

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)

AfriForum eis dat die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) ’n verduideliking asook ’n regstelling verskaf oor ’n heffing op sonpanele wat AfriForum meen onwettig, irrasioneel en onredelik is.

In ’n regsbrief aan dié munisipaliteit spreek die organisasie ernstige kommer uit oor die munisipaliteit se nuwe heffing vir sonpanele wat op inwoners se munisipale rekeninge verskyn. Hierdie heffing van R582,64 word gehef op alle eiendomme wat kies om van die elektrisiteitsnetwerk ontkoppel te word en uitsluitlik op sonpanele staat te maak – dit is dus ’n heffing vir die gebruik van die son.

AfriForum voer aan dat hierdie heffing op ’n onwettige belasting kan neerkom en dat daar geen bewys is dat ’n wettige en deursigtige proses van openbare deelname die instelling van hierdie heffing voorafgegaan het nie. Daar is ​​ook steeds vrae oor of die tariewe deur ’n toepaslike studie oor die koste van voorsiening ondersteun word, en of die aanvaarding en goedkeuring daarvan aan die toepaslike munisipale en elektrisiteitswetgewing voldoen.

“Hierdie aangeleentheid gaan oor meer as net betwiste heffings op munisipale rekeninge. Dit handel oor die fundamentele beginsel dat munisipaliteite slegs wettige, rasionele en behoorlik goedgekeurde tariewe mag hef. Thaba Chweu en NERSA moet verantwoording doen vir hierdie heffings, veral waar daar van inwoners wat heeltemal van die elektrisiteitsnetwerk ontkoppel is, verwag word om te betaal vir ’n diens wat hulle nie ontvang nie,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum het op 20 Julie aanvanklik aan die munisipale bestuurder geskryf en gedokumenteerde bewyse versoek van die proses wat gevolg is met die aanvaarding van die tariewe. Dit het afskrifte ingesluit van die betrokke koste-van-voorsiening-studie, openbare kennisgewings, raadsbesluite, kommentaar wat van die publiek ontvang is, en rekords wat aantoon hoe daardie kommentaar oorweeg is. Volgens AfriForum het die munisipaliteit versuim om te reageer.

“AfriForum het ’n beduidende toename waargeneem in onduidelike of twyfelagtige heffings en tariewe wat deur munisipaliteite oor die land heen ingestel word. Dit blyk ’n nuwe neiging te wees onder munisipaliteite wat meer geld van inwoners wil verhaal sonder om enige ooreenstemmende verbetering in dienste te lewer. Inwoners kan nie as geldkoeie behandel word wat nou moet opdok vir jare se munisipale skuld, wanbestuur en misbruik nie,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Die munisipaliteit en NERSA het tien dae om bevredigende verduidelikings en inligting te verskaf. Indien hulle versuim om dit te doen, is AfriForum van voorneme om die Hooggeregshof te nader.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf