|

Vakansie of nie, studente moet waaksaam bly oor beplande landswye protesoptogte

Deur Megan Swart

Hoewel die universiteitsvakansie vandeesweek amptelik afgeskop het, maan AfriForum Jeug alle studente wat nog op en om universiteitskampusse is, om uiters waaksaam te bly. Dié waarskuwing kom op die vooraand van die drukgroep March and March se landwye protesoptogte wat vir môre beplan is.

Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug, sê universiteite is dikwels ’n brandpunt vir optogte – selfs wanneer die meerderheid studente nie op kampusse is nie. Dit beteken dat diegene wat byvoorbeeld winterskool op kampusse bywoon die risiko loop om hulself in gevaarlike situasies te bevind.

“Daar is in hierdie stadium geen rede vir paniek nie, maar studente wat op of om universiteitskampusse is moet ingelig, waaksaam en voorbereid wees,” sê Koster.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê die grootste risiko van onrus is tans in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng gekonsentreer, maar dit beteken nie dat die risiko net tot dié streke beperk is nie.

“Daar is optogte in verskeie dele regoor die land beplan en die risiko bestaan dat die polisie nie die momentum van hierdie betogings gou genoeg kan stop nie. Anders as met die 2021-optogte in KwaZulu-Natal wil dit egter voorkom asof die polisie baie beter voorbereid is. Hulle het die privaat sekuriteitsbedryf betrek en gebeurlikheidsplanne is reeds in plek gestel,” sê Broodryk.

Dit beteken egter nie dat studente op hul louere moet rus nie, meen Koster, maar eerder deurlopend bewus moet bly van die situasie.

“Sosiale media is ’n belangrike hulpbron wat studente gaan help om inligting vinnig oor te dra, maar dit kan ook gebruik word om ongeverifieerde inligting te versprei en vrees aan te wakker. Daarom moet studente veral seker wees van hul bronne voordat hulle inligting oor die optogte glo of versprei. Betroubare inligting vanaf universiteite, kampusveiligheid, wetstoepassingsagentskappe en erkende veiligheidsnetwerke bly die beste manier om ingelig te bly,” sê Koster.

Volg dié raad en bly veilig

AfriForum Jeug stel verder voor dat studente vooraf verskeie moontlike roetes na en van kampus beplan; gebiede vermy waar groot skares saamdrom; hul selfone gelaai hou; die kontakbesonderhede van hul geliefdes en plaaslike veiligheidstrukture byderhand hou; en hul voertuie se brandstof aanvul indien hul roetes noodgedwonge aangepas moet word.

Volgens Koster moet studente nie hul nuuskierigheid die oorhand laat kry nie, maar eerder verantwoordelike besluite neem om onnodige risiko’s te vermy.

“Studente wat onverwags op ’n betoging afkom, moet veilig omdraai of die area so gou moontlik verlaat. Dit is baie belangrik om nie in argumente of konfrontasies betrokke te raak of te probeer om gevaarlike situasies van naby af te verfilm nie,” maan Koster.

“Studente wat waaksaam is, is baie beter geposisioneer om hulself te beskerm en te verhoed dat hulle slagoffers word van omstandighede buite hul beheer.”

Registreer op www.afriforumveiligheid.co.za en kry toegang tot betroubare, tydige en geverifieerde inligting oor die 30 Junie-protesaksies.

Soortgelyke plasings

Veiligheid