AfriForum doen beroep op publiek om kommentaar lewer op Nasionale Waterwysigingswetsontwerp se verreikende gevolge
AfriForum doen ’n beroep op boere, watergebruikers, besighede, burgerlike organisasies en ander belanghebbendes om kommentaar in te dien op die Nasionale Waterwysigingswetsontwerp, 2026. Hierdie wetsontwerp stel van die belangrikste veranderinge aan Suid-Afrika se waterwetgewing voor sedert die inwerkingstelling van die Nasionale Waterwet in 1998.
Die bedoeling met die wetsontwerp is na bewering om transformasie en meer billike toegang tot water te bevorder. AfriForum glo egter dat die parlement noukeurig moet ondersoek of die voorgestelde wysigings wel die werklike oorsake van ongelyke toegang tot water uit die weg sal ruim. Die organisasie voer aan dat die wetsontwerp moontlik bloot daarop gemik is om die magte van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) uit te brei sonder om rekening te hou met byna drie dekades van onvoldoende implementering van bestaande wetgewing.
Die wetsontwerp het onder meer ten doel om die departement se magte te versterk om bestaande wettige watergebruik te beperk; privaat waterhandel te verbied; die hertoewysing van water te sentraliseer; bepalings met betrekking tot bestaande wettige watergebruik te herroep; rasgebaseerde reservering van watertoekennings in te stel; en die bestuur en transformasie van watergebruikersverenigings verder te reguleer.
AfriForum sal omvattende kommentaar indien oor hierdie aspekte van die wetsontwerp.
“Byna drie dekades sedert die Nasionale Waterwet in werking getree het, toon die departement se eie data dat ongeveer die helfte van alle bestaande wettige watergebruike steeds nie geverifieer is nie en dat slegs sowat 75% van besproeiingsrade in watergebruikersverenigings omskep is,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
“Die departement het self ook erken dat praktiese hindernisse – soos grondbesit, finansiering, infrastruktuur, tegniese ondersteuning en ondersteuning met lisensiëringsprosesse – die grootste struikelblokke in die transformasieproses is. Daarom moet daar, voordat die parlement nóg meer magte aan die departement toestaan, gevra word waarom die bestaande statutêre meganismes nie ten volle benut is nie en waarom die werklike knelpunte nie opgelos is nie,” verduidelik De Vaal.
Volgens AfriForum berus DWS se regverdiging vir dié wetsontwerp swaar op die behoefte aan die transformasie van die watersektor en die aanname dat historiese grondbesitpatrone gelei het tot ’n onbillike konsentrasie van waterregte. AfriForum waarsku egter dat hierdie argumente noukeurig getoets moet word aan die hand van betroubare en beskikbare bewyse.
“Dié aannames onderlê ook die argument dat bestaande wettige watergebruik gekonsentreerd bly omdat historiese waterregte aan grondeienaarskap gekoppel was. AfriForum se jongste verslag oor grondbesit toon dat baie van die gevolgtrekkings oor grondeienaarskap in Suid-Afrika wat alte dikwels aangehaal word, op onwetenskaplike navorsing en aannames gegrond is. Dit is uit die verslag duidelik dat die sogenaamde feite oor grondbesit glad nie so seker is as wat beweer word nie. Die DWS het op ’n soortgelyke wyse self nog nie ’n akkurate verifikasieproses onderneem om die omvang van bestaande wettige watergebruike te bepaal nie. Dit is dus onverantwoordelik om ingrypende wetgewende hervormings te bevorder terwyl die feitelike basis waarop daardie hervormings berus, onvolledig bly,” sê De Vaal.
AfriForum hou vol dat hoewel transformasie ’n belangrike grondwetlike doelwit is, dit nie wetgewende wysigings regverdig wat nie identifiseerbare verband hou met die probleme wat dit probeer oplos nie. Die skep van nuwe bevoegdhede om water op rassegronde te reserveer of te hertoewys, terwyl die onderliggende beperkings onopgelos bly, sal beide transformasie en doeltreffende watergebruik ondermyn.
Die publiek het tot 30 Julie 2026 om kommentaar in te dien. Skriftelike voorleggings kan per e-pos aan gestuur word aan Nosipho Bavuma by pcws@parliament.gov.za.



