#HerstelEnVersnel-projek wys krag van gemeenskappe in die sentraalstreek






AfriForum se #HerstelEnVersnel-projek, wat vanaf Mei tot middel Junie aangebied is, was ’n groot sukses in die Sentraalstreek. Gedurende dié projek is 49 selfdoenaksies in verskeie dorpe waar AfriForum-takke aktief is, van stapel gestuur. Die doel van die projek was om deur praktiese gemeenskapsaksies nuwe hoop te skep en die krag van samewerking te demonstreer.
Die aksies het ’n wye verskeidenheid projekte ingesluit, onder meer die herstel van slaggate, die sny van parke en groenstroke, vullisverwydering, die oprigting van stopstrate, verfwerk by skole en die skenking van sonkragligte om veiligheid te verbeter. AfriForum se buurtwagte het ook ’n belangrike rol gespeel deur verhoogde sigbaarheidspatrollies in hul onderskeie gebiede uit te voer. Hierdie samewerking tussen takke, buurtwagte en gemeenskapslede het die ware betekenis van gemeenskapsamewerking beklemtoon.
Die impak van die projek spreek vanself:
- Meer as 21.1 ton teer is gebruik om slaggate te herstel.
- Altesaam 126.1 ton vullis is verwyder waar munisipaliteite versuim om hul verantwoordelikhede na te kom.
- Meer as 68,7 hektaar parke en openbare ruimtes is skoongemaak en gesny.
- Verskeie ander projekte is aangepak om dorpe veiliger, netjieser en meer leefbaar te maak.
“Met hierdie selfdoenprojekte wys AfriForum weereens dat gemeenskappe nie magteloos hoef toe te kyk hoe infrastruktuur en dienslewering agteruitgaan nie. Wanneer inwoners saamstaan en verantwoordelikheid neem vir hul omgewing, kan merkwaardige resultate behaal word,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.
Terwyl die regering hom toenemend op die volgende verkiesing toespits, fokus AfriForum daarop om vandag reeds ’n beter toekoms te bou. “Ons herstel nie net wat verval het nie, ons lê die grondslag vir die volgende geslag. Die #HerstelEnVersnel-projek is ’n bewys dat gemeenskappe, wanneer hulle saamwerk, die vermoë het om werklike en volhoubare verandering te bewerkstellig,” sluit Grobbelaar af.



