GOP: Tswaing-munisipaliteit moet aandag aan vervalle infrastruktuur opskerp
Die AfriForum-takke in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal het in hul kommentare vir die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) voorgestel dat die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit dringende aandag aan die verval van infrastruktuur moet. Gedurende die afgelope twee jaar het die munisipaliteit geen poging aangewend om onder meer paaie, rioolstelsels of waterstelsel op te gradeer of in stand te hou nie.
Die takke stel voor dat die munisipaliteit genoeg befondsing in die begroting voorsien om hierdie kritieke verpligting te prioritiseer. In Delareyville is inwoners soms vir twee aaneenlopende weke sonder water weens die vervalle infrastruktuur. In Sannieshof en Ottosdal is riool ’n reuse-uitdaging, terwyl rou riool soms in die strate van Sannieshof afvloei en die munisipaliteit net hul skouers daaroor optrek.
Intussen is die toestand van paaie in Delareyville, Sannieshof en Ottosdal baie swak. Die munisipaliteit hou aan om nuwe uitbreidings in dorpe te skep, maar die paaie word nie opgegradeer nie. Inwoners is al moedeloos om probleme te rapporteer, want daar word niks daaraan gedoen nie. Dit is dus vir AfriForum belangrik om kommentaar op die GOP in te dien om sodoende die munisipaliteit verantwoordbaar te hou.
Buiten die gebrek aan aandag aan hierdie dorpe se infrastruktuur, is hul vullisterreine ook nie op standaard nie. Delareyville, Sannieshof en Ottosdal se vullisterreine is in ’n haglike toestand en voldoen nie aan die minimum vereistes nie. Die takke het aangeraai dat die munisipaliteit daarvoor moet befonds om die vullisterreine reg te ruk. Daar is ook kommer uitgespreek oor onwettige storting wat plaasvind waarteen daar nie opgetree word nie.
Die munisipaliteit is nou ook vir die derde agtereenvolgende jaar gevra om dringend fondse aan die Henk Joubert-natuurreservaat toe te ken. Die reservaat gaan gebuk onder uiterse swak bestuur onder die munisipaliteit. In AfriForum se kommentaar word versoek dat die munisipaliteit veral aandag gee aan die toestand van die heining om die reservaat, wat jaarliks tot talle ongelukke lei waarby wild betrokke is; om die infrastruktuur, veral die waterpompe en krippe wat onherstelbaar is, te herstel; en dan ook om na die algemene gesondheid van die diere om te sien.
In die GOP doen AfriForum ook ’n beroep op die Tswaing-munisipaliteit om fondse beskikbaar stel vir die instandhouding van begraafplase en die kragnetwerk.
In AfriForum se voorstelle en kommentare word daar duidelik uiteengesit wat die probleem is, asook die omvang daarvan. AfriForum vereis ook dat die munisipaliteit kwartaallikse vergaderings met die organisasie hou om enige probleme spoedig op te los.
“Die GOP is ’n ideale geleentheid om die takke se kommentare en voorstelle rakende die munisipaliteit se begroting uiteen te sit. Dit gee ook geleentheid vir die munisipaliteit om eerstehands te sien waar die gemeenskap probleme ervaar en om dit dan so gou moontlik op te los. AfriForum sal aanhou om druk op die munisipaliteit toe te pas om te verseker dat hulle aandag aan die probleme gee en hul grondwetlike pligte nakom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter: Klik hier vir meer inligting.



