|

Geweld tydens plaasaanvalle kommerwekkend hoog, toon jongste AfriForum-verslag

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

Volgehoue hoë vlakke van ernstige geweld tydens plaasaanvalle en ’n toename in die aantal aanvalle toon, ondanks die geringe afname in die aantal plaasmoorde, dat landelike gemeenskappe steeds kwesbaar is. Dié en ander sleutelbevindings is ingesluit in AfriForum se 2025-plaasmoordeverslag wat vandag bekendgestel is.

Die burgerregteorganisasie waarsku dat hoewel die afname in die aantal plaasmoorde wat in 2025 plaasgevind het, bemoedigend mag voorkom, sy navorsing toon dat gewelddadigheid tydens aanvalle kommer wek. Vanjaar se studie werp, benewens inligting oor die aantal plaasaanvalle en -moorde, ook spesifiek lig op die voorkoms van gewelddadige optrede van verswarende aard, verkragting en marteling tydens plaasaanvalle wat in 2025 aangemeld is.

AfriForum se navorsing toon dat minstens 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde in 2025 plaasgevind het, vergeleke met 176 aanvalle en 37 moorde in 2024. Die toename in die aantal plaasaanvalle, tesame met die gewelddadige aard daarvan, dui daarop dat baie slagoffers aanvalle oorleef het wat maklik tot sterftes kon gelei het. AfriForum het onder meer bevind dat 36% van alle plaasaanvalle wat in 2025 aangeteken is – oftewel byna 4 uit elke 10 plaasaanvalle – geklassifiseer kan word as ’n “ernstige gewelddadige daad met ’n beduidende kans op dood”.  

Voorkoms van aanvalle per provinsie

Die AfriForum-plaasmoordeverslag toon verder dat hoewel plaasaanvalle landwyd voorkom, Gauteng die provinsie is waar die grootste aantal plaasaanvalle (50) én die grootste aantal plaasmoordinsidente (7) in 2025 aangeteken is. Dit bring Gauteng se moordinsident-tot-aanvalkoers op 14% te staan. ’n Totaal van 26, 25 en 25 aanvalle is in onderskeidelik Mpumalanga, Noordwes en die Wes-Kaap aangemeld, terwyl 1, 4 en 3 moordinsidente in dié drie provinsies plaasgevind het. Die provinsie met die hoogste moordinsident-tot-aanvalkoers is egter Limpopo waar 5 moordinsidente in 16 aanvalle plaasgevind het. Meer as 3 uit elke 10 aanvalle (oftewel 31% van aanvalle) in dié provinsie het tot die dood van slagoffers gelei.

Slagoffers van plaasaanvalle

Al is die ouderdomme van slagoffers nie altyd bekend nie, toon AfriForum se navorsing dat geen ouderdomskategorie van dié misdaad gevrywaar is nie. In 2025 het slagoffers gewissel van jong kinders tot bejaardes. Dit blyk wel dat bejaardes ouer as 61 jaar veral kwesbaar is, met 1 uit elke 2 slagoffers (oftewel 54% van alle slagoffers waarvan ouderdomme bekend is) wat in dié ouderdomskategorie val.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, skets die 2025-verslag ’n kommerwekkende beeld van landelike veiligheid in Suid-Afrika en beklemtoon die kwesbaarheid van boere, hul gesinne, plaaswerkers en ander plaasbewoners.

“Enige daling in die aantal plaasmoorde is goed, maar dit sou ’n ernstige fout wees om dit as ’n oorwinning in die stryd teen plaasaanvalle te beskou. Die werklikheid is dat die vlak van geweld in plaasaanvalle buitengewoon hoog is en dat baie van hierdie aanvalle maklik tot die dood van slagoffers kon gelei het. Die brutaliteit wat in hierdie aanvalle gesien word, bevestig dat plaasaanvalle nie gewone misdade is nie en dienooreenkomstig hanteer moet word,” sê Broodryk.

AfriForum doen daarom weer ’n beroep op die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) om plaasaanvalle tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar. “Die versuim om sodanige klassifikasie te doen, belemmer pogings om dié misdaad doeltreffend te bestry. Gegewe die georganiseerde aard van plaasaanvalle en uiterste geweld wat daarmee gepaard gaan, voldoen plaasaanvalle aan die voorvereistes van ’n prioriteitsmisdaad.”

Volgens Broodryk sal AfriForum sy strategie in die skep van internasionale bewustheid oor plaasaanvalle en die realiteite waarmee landelike gemeenskappe in Suid-Afrika te kampe het, voortsit. Die organisasie hou vol dat die Suid-Afrikaanse regering ’n ondubbelsinnige standpunt moet inneem teen plaasaanvalle en opruiende retoriek wat poog om geweld te normaliseer, soos die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang.

AfriForum sal daarbenewens voortgaan om sy gemeenskapsveiligheidstrukture, insluitend buurtwagte, plaaspatrollies en reaksienetwerke, uit te brei om te help om kwesbare gemeenskappe te beskerm. Die organisasie beklemtoon dat samewerking tussen gemeenskappe, privaat sekuriteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) noodsaaklik bly, maar dat sterker politieke wil en beslissende optrede dringend nodig is om die krisis te takel.

Soortgelyke plasings

Veiligheid