AfriForum eis dringende optrede oor voortslepende waterkrisis in Kleinzee
AfriForum doen ’n beroep op die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit vir onmiddellike ingryping by die ernstige waterkrisis in Kleinzee, waar inwoners volgens berigte reeds vir bykans twee maande ’n gebrek aan volhoubare watervoorsiening in die gesig staar.
In ’n skrywe wat AfriForum vandag aan Refilwe Sebela, die nuwe munisipale bestuurder, gestuur het, spreek die organisasie ernstige kommer uit oor die voortdurende onderbrekings in watervoorsiening wat inwoners se gesondheid, waardigheid en basiese menseregte skend.
“Die reg op toegang tot voldoende water word duidelik in artikel 27 van die Grondwet uiteengesit. Die huidige situasie in Kleinzee is onaanvaarbaar en dui op ’n ernstige mislukking in dienslewering,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder van AfriForum in die Kalahari.
AfriForum wys daarop dat die Nama Khoi-munisipaliteit ingevolge die Wet op Waterdienste 108 van 1997 verplig is om doeltreffende, bekostigbare en volhoubare toegang tot waterdienste te verseker.
Die organisasie het verder aangedui dat inwoners aangeraai is om klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) in te dien en om ook strafregtelike klagte by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te oorweeg.
In sy brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om dringend terugvoer te gee oor die maatreëls wat ingestel is om wetlike nakoming te verseker; ’n volledige aksieplan met tydlyne en verantwoordelike amptenare; en verbeterde kommunikasie met inwoners oor die status van die watervoorsiening.
In sy brief het AfriForum die munisipaliteit versoek om dringend terugvoer te gee oor die maatreëls wat ingestel is om wetlike nakoming te verseker; om ’n volledige aksieplan met duidelike tydlyne en verantwoordelike amptenare voor te lê; en laastens om kommunikasie met inwoners oor die status van die watervoorsiening te verbeter.
“Gemeenskappe kan nie in voortdurende onsekerheid leef oor toegang tot water nie. Deursigtige kommunikasie en daadwerklike optrede is nou noodsaaklik om vertroue te herstel,” voeg Strauss by.
Die munisipaliteit het vyf dae ná ontvangs van die brief om daarop te reageer.



