| | |

“Verduidelikings” oor toegangsregulasies vir damme laat meer vrae as antwoorde

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

Die Departement van Water en Sanitasie se onlangse poging om sy voorgestelde regulasies oor die bestuur en beheer van staatsdamme tydens ’n reeks bykomende openbaredeelnamevergaderings op 15, 16 en 20 April te verduidelik, het misluk om sleutelkwessies op te los en eerder onsekerheid oor wetlike en praktiese implikasies verdiep. AfriForum het gevolglik vandag formeel aanvullende skriftelike kommentaar aan die Departement voorgelê met 60 vrae wat direk voortspruit uit die Departement se aanbieding en daaropvolgende verduideliking. Dit volg nadat die organisasie reeds op 13 April ook formeel kommentaar ingedien het teen die voorgestelde regulasies wat op 16 Januarie gepubliseer is.

Volgens AfriForum dui die feit dat ’n verduidelikingsproses tot 60 bykomende vrae gelei het op ’n fundamentele probleem met die regulatoriese raamwerk self.

“As die Departement se verduideliking doeltreffend was, sou dit onsekerheid verminder het. In plaas daarvan het dit blootgelê hoe onduidelik en intern teenstrydig die voorgestelde raamwerk werklik is,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum verduidelik dat die onsekerheid uiteindelik om drie sleutelkwessies draai wat die kern van die regulasies raak, naamlik of toegang tot staatsdamme vir ontspanningsdoeleindes ’n wettige openbare aktiwiteit of ‘n vergunning wat deur die staat verleen word, is, wat die regsgrondslag is vir die stelsel van goedkeurings, huurkontrakte en ooreenkomste en in watter mate die Departement beheer oor privaatgrond en bestaande regte eis.

“Dit is nie abstrakte bekommernisse nie. Dit spruit direk uit die Departement se eie dokumente. Wanneer die voorgestelde regulasies saam met die Hulpbronbestuursplanne en die Huurbeleid gelees word, dui dit op ’n stelsel waar toegang afhang van staatstoestemming en waar langdurige, bestaande ontspanningsgebruike in twyfel getrek kan word,” verduidelik De Vaal.

AfriForum beklemtoon dat, ten spyte van versekerings dat die regulasies nie beoog om toegang te beperk of ontspanningsgebruik te kriminaliseer nie, die regsgevolg van die raamwerk onduidelik en in sommige opsigte teenstrydig bly.

AfriForum waarsku ook daarteen om hierdie bekommernisse as skrikaanjaend af te maak en beklemtoon dat die vrae wat geopper word, gewortel is in basiese beginsels van regmatigheid en deursigtige openbare administrasie. “Dit is maklik om kritiek as skrikaanjaend te bestempel, maar die werklikheid is dat ons baie basiese regsvrae vra. As die Departement nie duidelike antwoorde op hierdie vrae kan gee nie dan lê die probleem by die regulasies, nie by diegene wat kommer daaroor uitspreek nie,” sê De Vaal.

AfriForum ondersteun redelike en regmatige regulering van waterbronne, maar waarsku dat ‘n proses wat gekenmerk word deur dubbelsinnigheid, verskuiwende verduidelikings en onopgeloste teenstrydighede die risiko loop om openbare vertroue te ondermyn. Die organisasie het die Departement versoek om duidelike, skriftelike antwoorde op die 60 vrae wat geopper is te verskaf en die voorgestelde regulasies in die lig van die geïdentifiseerde bekommernisse te heroorweeg.

Om AfriForum se pogings te ondersteun om openbare toegang tot waterbronne te beskerm en die regering aanspreeklik te hou, besoek www.afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf