Sakekenner Juanita Vorster onthul die pad na moderne sakesukses tydens AfriForum Sakenetwerk-geleentheid
Meer as 70 besigheidsleiers het vanoggend (22 Julie 2026) byeengekom vir AfriForum se Pretoria Sakenetwerk-geleentheid waartydens Juanita Vorster, ’n gesoute onafhanklike besigheidsadviseur met meer as 24 jaar ervaring, die pad na moderne sakesukses uiteengesit het. Dié netwerkgeleentheid is geborg deur Solidariteit en is aangebied by die AfriForum Teater in Pretoria.
Hierdie geleentheid het praktiese riglyne uiteengesit waarop sakelui sukses kan bereik én behou. Vorster het aan die hand van vier eenvoudige vrae ’n beproefde raamwerk gebied wat op enige onderneming toegepas kan word en besighede begelei om te skuif vanaf blote sake “dink” na sake “doen”. Haar model moedig sake-eienaars onder meer aan om te besin oor produkte en prosesse wat nie net aan kliënte se verwagtinge voldoen nie, maar dit oortref. Sy wys voorts ook op die waarde daarvan om die regte mense aan boord van jou onderneming te kry en hulle met jou onderneming te belyn.
Volgens Corné Cronjé, hoof van Gemeenskapsbou by AfriForum, was dié netwerkgeleentheid ook spesifiek daarop gemik om Afrikaanse ondernemings in kontak te bring met mekaar. AfriForum beskik reeds oor ’n landwye netwerk van soortgelyke sakegroepe waardeur ondernemings met mekaar kan skakel tydens sakeontbyte en opleidingsessies.

Vorster beklemtoon dat netwerkgeleenthede soos dié uiters waardevol is. “Dit is waardevol vir elke besigheidsleier, besigheidseienaar en entrepreneur, want dit raak partykeer só ongelooflik alleen wanneer jy in jou kantoor sit en probeer om al die probleme op te los. Almal verstaan ook nie noodwendig waardeur jy gaan nie en dit is so moeilik om dit aan ander te verduidelik. Wanneer jy egter by ’n netwerkgeleentheid kom, is dit soveel makliker om vir mense te vertel waarmee jy worstel. Hulle verstaan, want hulle gaan self daardeur, en hulle kan vir jou raad gee uit hulle perspektief en uit hulle ervaring uit.”



Vorster hou vol dat hierdie uitruiling van idees en kennis juis waardevol is omdat dit uit praktiese eerstehandse ondervinding spruit. “Dit is nie net boekekennis of generiese kennis nie,” beklemtoon sy.
En die uitkoms? “Wanneer jy weggaan by so ’n geleentheid, so voel dit vir my, het ek meer hoop en moed, energie en stamina om die volgende ding te probeer, want ek wéét ek is nie alleen nie. Daar is ander mense soos ek wat regtig verstaan, en ons kán ’n verskil maak,” sluit sy af.
Die volgende AfriForum Sakenetwerk-geleenthede vind binnekort plaas:

- 23 Julie: “Hoekom staan jou besigheid stil?” deur Jandré de Beer in Bloemfontein
- 29 Julie: “Belasting sonder verrassings deur” deur Azaan van Eeden in Durbanville
Besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za vir meer inligting oor dié netwerkgeleenthede of om by jou plaaslike AfriForum Sakenetwerk betrokke te raak.



