|

Eendedam floreer danksy vyf jaar se instandhouding deur Springs-tak

AfriForum se Springs-tak is sedert Januarie 2022 betrokke by die instandhouding en verbetering van die sogenaamde eendedam in George Sutter Park en dié tak beplan om vir jare nog hierdie openbare ruimte in ’n veilige toevlugsoord vir die gemeenskap te skep.

Die park voordat AfriForum met die instandhouding begin het.

Die tak se toegewyde tuinspan het onlangs weer ingespring om die maandelikse instandhouding van die terrein te doen. Dit sluit onder meer die algemene opruiming van die terrein in, asook grassny, snoei van bome en handhawing van algemene netheid. Die tak sien ook toe na die herstel en instandhouding van die boorgat en pomp by die dam. Hierdie infrastruktuur dien terselfdertyd as ’n noodwaterpunt vir die gemeenskap.

Wanneer die infrastruktuur onklaar raak of beskadig word, tree AfriForum se Springs-tak ook in. Die heining om die eendedam is deur die tak herstel nadat ’n voertuig daardeur gery het. Waar nodig, word die gras aan die buitekant van die heining ook deur AfriForum gesny om die algemene voorkoms van die gebied te verbeter.

“Ons glo in sigbare en volhoubare gemeenskapsbetrokkenheid. Deur die terrein gereeld te onderhou, die boorgat en noodwaterpunt in stand te hou en skade aan te spreek, help ons om ’n openbare ruimte te beskerm wat aan die hele gemeenskap behoort. Dit gaan nie net oor ‘n skoon park nie, maar om verantwoordelikheid te neem en self ’n positiewe verskil in Springs te maak,” sê Petro Kirton, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

AfriForum se Springs-tak sal voortgaan om die eendedam en sy omliggende terrein te onderhou en waar moontlik praktiese ondersteuning aan die gemeenskap te bied.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf