| | |

Kattebasaar in Bothaville ruk handuit – AfriForum eis munisipale optrede

Die AfriForum-tak in Bothaville doen ’n dringende beroep op die Nala Plaaslike Munisipaliteit om verantwoordelikheid te aanvaar vir die ernstige openbare gesondheids-, veiligheids- en dierewelsynskrisis by ’n onbewoonde huis in Coetzerstraat, Bothaville. Dié perseel is na bewering tans ’n teelgrond vir sowat 70 katte wat amok saai in die buurt.

Volgens gemeenskapslede klink dit asof van die katte aan ’n aansteeklike respiratoriese siekte soos katgriep of snuffles ly en ’n gevaar inhou vir die troeteldiere in die omgewing. Daarbenewens beweeg dié katte vrylik rond in omliggende erwe en huise, beskadig meubels, en tree in sommige gevalle aggressief op. Kommer oor die verspreiding van omlope as gevolg van hierdie katte is ook geopper.

Hoewel die Kroonstadse DBV aanvanklik die gebied besoek het om die omvang van die probleem te bepaal, val Bothaville nie binne dié tak se aangewese bedieningsgebied nie. Die DBV-tak het aangedui dat dit nie finansieel haalbaar is om ongeveer 70 katte sonder bykomende ondersteuning te vang, te vervoer en te huisves nie. Die beraamde vervoerkoste alleen beloop sowat R7 000.

Die Kroonstadse DBV het die saak intussen na die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se hoofkantoor in Johannesburg verwys. ’n Verteenwoordiger van die NDBV het AfriForum reeds telefonies gekontak en ondersoek tans moontlike hulp. Die Kroonstadse DBV het ook bevestig dat daar aan ’n praktiese aksieplan gewerk word.

AfriForum verwelkom hierdie bereidwilligheid om in belang van dierewelsyn te help. Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier verander dit egter nie die feit dat die Nala-munisipaliteit die primêre verantwoordelikheid dra om openbare gesondheidsgevare, oorlas en onveilige toestande binne sy regsgebied aan te pak nie.

“Die DBV is ’n welsynsorganisasie met beperkte fondse en hulpbronne. Die munisipaliteit kan nie bloot terugsit en verwag dat só ’n organisasie alleen ’n krisis van hierdie omvang moet oplos nie. Die munisipaliteit moet die nodige rolspelers koördineer, hulpbronne beskikbaar stel en verseker dat die diere wettig, professioneel en menslik verwyder en deur ’n veearts beoordeel word,” sê Pretorius.

AfriForum het die munisipaliteit versoek om ‘n daadwerklike plan te maak, hulle verantwoordelikheid na te kom en die probleem op te los en ook die eienaar van die onbewoonde eiendom tot verantwoording te roep.

AfriForum beklemtoon dat geen dier op ’n onwettige of wrede wyse benadeel mag word nie. Die oplossing moet wettig, gekoördineerd, volhoubaar en menslik wees.

“Hoe langer die munisipaliteit versuim om op te tree, hoe groter word die kolonie en hoe ernstiger raak die risiko vir inwoners en diere. Hierdie probleem sal nie vanself verdwyn nie. AfriForum sal die munisipaliteit aanspreeklik hou en die saak na die toepaslike provinsiale en dierewelsynsowerhede eskaleer indien daadwerklike optrede ontbreek,” sluit Pretorius af.

Intussen het die administrateur by die Nala-munisipaliteit, Amos Goliath, die probleem na die Lejweleputswa Distrik Munisipaliteit geëskaleer, aangesien dit glo hulle verantwoordelikheid is.

Raak by Bothaville se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Dolf Meyer by 073 810 9568 om aan te sluit.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf